Johan Kotze verskyn in die hof

Johan Kotze tydens sy verskyning in die hof. Foto geneem en op Twitter gelaai deur die gebruiker @ewnreporter

Johan Kotze (50) en sy mede-beskuldigde het Vrydag vlugtig in die landdroshof in Modimolle verskyn en sal tot hul volgende verhoordatum in Februarie in aanhouding bly.

Die twee staar 17 aanklagte in die gesig insluitend moord, sameswering tot verkragting, verkragting, seksuele aanranding, ontvoering en algemene aanranding. Hul volgende verhoordatum is 10 Februarie.

Die hof het beveel dat die identiteit van Kotze se mede-beskuldigde nog nie bekend gemaak mag word nie, aangesien die uitkenparade nog nie plaasgevind het nie. Kotze, wat ʼn kakiehemp aangehad het, het sy kop omhoog gehou terwyl fotograwe hom afgeneem het, maar sy mede-beskuldigde het sy gesig met ʼn blou baadjie bedek.

Kotze word daarvan verdink dat hy sy vervreemde vrou deur drie mans laat verkrag en sy stiefseun doodgeskiet het.

Lede van die ANC se vroueliga (ANCWL) het vryheidsliedere buite die hof gesing. “Senzeni na? Senzeni na? (Wat het ons gedoen?)” het hulle gesing. Hulle het ook plakkate rondgeswaai waarop hulle vra dat Kotze nie op borgtog vrygelaat sal word nie. “Geen borg, geen genade vir die monster,” het op van dié plakkate gestaan. Hulle is ontsteld oor dit wat Kotze vermoedelik gedoen het, het Joy Matshoge, tesourier vir die ANCWL se Waterberg-tak gesê. “Ons is baie kwaad. Ons versoek die hof om nie borg aan hom toe te staan nie,” het sy gesê. “Geweld het geen kleur of ras nie – ons is hier om die vrou te ondersteun.” Volgens Matshoge is die ANCWL ook ontsteld dat Kotze arm, werklose mans uitgebuit het deur aan hulle werk te belowe en hulle later forseer het om sy eksvrou aan te val. “Hy is ʼn duiwel,” het sy gesê. Matshoge sê die howe moet regverdig teenoor die mans optree en in ag neem dat hulle nie beplan het om die misdryf te pleeg nie.

ʼn Mensejag vir Kotze is van stapel gestuur toe hy in ʼn wit Toyota Fortuner gevlug het nadat hy in sy huis op 4 Januarie glo drie mans met ʼn geweer gedreig het om sy vervreemde vrou om die beurt te verkrag en sy stiefseun doodgeskiet het. Kotze is Woensdag in die dorp aangekeer.

ʼn Soektog is ook na die drie mans begin. Die 42-jarige mede-beskuldigde is Woensdag in Makapanstad naby Hammanskraal, noord van Pretoria aangekeer. Die ander twee mans is steeds voortvlugtend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.