Johnson & Johnson-erfgenaam sterf

Barbara Piasecka Johnson

Barbara Piasecka Johnson, die weduwee van J. Seward Johnson Sr., erfgenaam van die Johnson & Johnson-miljoene, is in die ouderdom van 76 oorlede.

Johnson was die dogter van ‘n Poolse boer en het as 31-jarige na Amerika emigreer met $100 in haar sak en geen kennis van Engels nie. Sy het as kok en huishulp vir die ryk Johnsons begin werk en uiteindelik was sy die derde vrou van J. Seward Johnson Sr. Sy het ná ‘n sensasionele hofgeding met haar ses stiefkinders ‘n groot gedeelte van die Johnson & Johnson-fortuin geërf. Sy het sowat $300 miljoen van die erfporsie van meer as $500 miljoen ontvang.

Die Johnson & Johnson-fortuin is hoofsaaklik verdien uit die verkope van verbande, baba-olie en apteekprodukte.

Johnson het in Monaco gebly en het haar rykdom gebruik om ‘n kunsversamelaar te word. Sy het werke van onder andere Rembrandt, Rubens, Gauguin en Raphael besit.

Haar afsterwe is Donderdag in die Poolse dagblad Rzeczpospolita bekendgemaak. “Sy is ná ‘n lang siekbed oorlede en sal op 15 April in Wroclaw, die suidwestelike Poolse stad, waar sy ‘n groot gedeelte van haar jeug deurgebring het, begrawe word,” het die koerant berig.

Sy was 34 jaar oud toe sy met Johnson Sr. getrou het. Hy was 76. Hy het agt dae ná sy egskeiding met sy tweede vrou, met Piasecka in die huwelik getree. Nie een van sy kinders het die huwelikseremonie bygewoon nie. Hy is uiteindelik in die ouderdom van 87 aan prostaatkanker oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.