Jong Bokkies deur na halfeind

Die Jong Bokkies het ondanks ’n slordige vertoning steeds gisteraand koning gekraai teen die Franse Jong Hane in die IRB Junior Wêreldbeker-toernooi.

Die eindtelling in die wedstryd, wat in Frankryk gespeel is, was 26-19 en die Jong Bokkies het halftyd met 8-7 voorgeloop.

Die eindtoeter het menigte kykers met die gevoel gelaat dat die Suid-Afrikaners straks gelukkig was om hierdie een te wen. Nietemin, soos die oud-Bok Werner Swanepoel, wat deesdae sy lyf rugbykommentator hou, gesê het: “Die merk van ’n goeie span is dat hulle kan wen sonder dat hulle werklik ’n goeie wedstryd gehad het.”

Die eerste helfte was gekenmerk deur heelwat ongedwonge foute aan albei kante, maar veral aan die kant van die besoekers, wat oorgretig en daarom ook roekeloos voorgekom het. Die Frans losvoorspelers het baljaar met al die los balle wat hul teenstanders hulle by die afbreekpunte gegee het.

Die Bokkies se kragtige senter, Dries Swanepoel, het ’n praglopie met ‘n drie binne die tweede minuut van die eerste helfte afgerond. Kort daarna het die Bokkies se agterspelers ongeërd die bal rondgegooi en dit is uit die lug gepluk deur die Jong Hane se robuuste Thibault Regard wat rieme neergelê het om te gaan druk. Die Franse se losskakel, Enzo Selponi, het daarna sy span met 7-5 laat voorloop met die verdoelskop.

Die Tuks-losskakel Handré Pollard het die Bokkies se neuse voor halftyd met ‘n strafdoel voorgeplaas nadat hulle in die tweede helfte van die eerste helfte onder groot druk was.

Die Bokkies se afrigters, Dawie Theron en Brendan Venter, het klaarblyklik hard in die kleedkamers gepraat want die spelers het met nuwe vuur die tweede helfte begin. Hulle is beloon toe die regtervleuel Luther Obi in die hoekie gaan afrond het met talle Haan-verdedigers wat hom op hom afgepyl het.

Pollard het kort daarna ‘n indrukwekkende langafstand-strafskop vanaf die halflyn oorgeklits.

Die Bokkies (en hul ondersteuners) het helaas oorgerus begin raak toe hulle 18-7 voor was en die Hane gewys het hulle wil almal verras.

Die plaasvervanger Baptiste Serin het onder die pale gaan kuier nadat die Hane die Bokkies se verdediging oorhoops gehad het. Hy het self sy drie verdoel.

Pollard het egter met nog ‘n strafskop geslaag voordat Cheslin Kolbe, wat ongetwyfeld ‘n groot vonds vir SA rugby is, kort voor die eindfluitjie die wen verseël het met ‘n sublieme dartellopie en drie.

Die Jong Bokkies speel Dinsdag teen Wallis in die halfeindstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.