Jong man glo in Hatfield ontvoer

Richard Drevin het kneusplekke, vergrote hart gehad. Lees meer hier.

Die polisie het intussen bekendgemaak dat Richard Drevin nie vermoor is nie. Lees die storie hier.

Drie mans is in hegtenis geneem in verband met die dood van Richard Drevin. Sy pa het ook intussen meer besonderhede oor sy dood bekendgemaak. Lees die storie hier.

Richard Drevin se lyk is Dinsdag gevind. Lees die storie hier.

Richard Drevin

Die polisie in Pretoria het bevestig dat hy ʼn saak van ontvoering ondersoek nadat ʼn 23-jarige man Vrydagaand van Hatfield Square vermis geraak het nadat hy saam met vriende gekuier het.

ʼn Polisiewoordvoerder, ao. Annabelle Middleton, het aan Maroela Media bevestig dat Richard Drevin moontlik ontvoer is. Middleton sê daar is geen nuwe leidrade in die stadium nie. Sy ma, Lynette Drevin, sê haar seun het glo omstreeks twaalfuur Vrydagaand vermis geraak nadat hy die laaste keer by ʼn kuierplek in Hatfield Square gesien is. Sy sê toe ʼn vriend van haar seun hom op sy selfoon probeer bel het, het ʼn vreemde persoon die selfoon geantwoord. “Hy het vir hulle gesê Richard is siek en dat hy in die badkamer is. Toe hulle daar kom was hy egter nie daar nie en toe hulle weer bel het die persoon gesê Richard is saam met hulle by ʼn ABSA-OTM.” Richard se foon is sedert Saterdagoggend af. Sy sê daar is intussen twee kontantonttrekkings uit haar seun se rekening gemaak. Die gesin het ook ʼn private ondersoeker aangestel. Drevin sê haar seun het verlede jaar sy honneursgraad in inligtingtegnologie klaargemaak by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus. Sy sê hy bly sedert die begin van die jaar in Sunninghill in Johannesburg waar hy as ʼn konsultant werk by PricewaterhouseCoopers. “Hy het nog vir my gesê hy is so opgewonde oor twee projekte waarmee hulle Maandag (vandag) sou begin.”

Richard het ʼn donkerblou- en witstrepieshemp, ʼn jean en bruin skoene gedra ten tyde van sy verdwyning. Hy is ongeveer 1,8m lank en weeg tussen 85 en 90kg. Hy het kort rooibruin krulhare. Indien jy meer inligting het kontak die ondersoekbeampte, konst. Sekeleoana, by 012 366 1735 of 082 319 9647.

Maroela Media het Dinsdagiddag van Richard se ma verneem dat hy dood is. Die polisie gaan later ‘n verklaring in die verband uitreik en sal ons so gou as moontlik die storie op Maroela publiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karien Venter ·

Ons as familie en vriende is dankbaar vir ondersteuning deur die publiek en vriende van Facebook. Moet asseblief nie ophou bid vir ons nie.

Fiona ·

Ek hoor hulle het sy lyk gekry? Is dit waar?

Ons gedagtes en gebede is met sy familie en vriende in hierdie moeilike tyd…

Nico Strydom ·

Fiona dit is waar. Richard se ma het dit vroeër vanmiddag aan Maroela Media bevestig. Die polisie gaan later ‘n verklaring in die verband uitreik en sal die storie so gou as moontlik op Maroela gepubliseer word.

andries ·

Ja, Richard is vermoor. Lyk was by Steve Biko Hospitaal gekry. Bid asb vir die familie onder hierdie omstandighede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.