Jong man in Potch vermoor

Willem van der Westhuizen, ʼn 22-jarige inwoner van Potchefstroom, se liggaam is Sondagoggend op ʼn sypaadjie in die dorp gevind.

Kol. Sabata Mokgwabone, ʼn polisiewoordvoerder van Noordwes, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Van der Westhuizen se liggaam is op ʼn sypaadjie op die hoek van Marestraat en Walter Sisulurylaan gevind.

“Ons het op hom afgekom waar hy gelê het. Ons het die polisie gebel en hom aan die lewe probeer hou. Met die polisie se aankoms was hy reeds oorlede. Dit is so teleurstellend,” het Anrie Cloete, ʼn inwoner, op ʼn Facebook-blad geskryf.

“Die ondersoek is nog in ʼn vroeë stadium en die motief vir die moord is nog nie bekend nie. Die slagoffer het ʼn steekwond aan sy rug en aan sy bors gehad,” het Mokgwabone gesê.

Mokgwabone sê daar is slegs ʼn huissleutel met ʼn afstandbeheer in Van der Westhuizen se besit gevind. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Mokgwabone versoek enigiemand met meer inligting oor die voorval om Crime Stop by 08600 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.