Jong man keer aanvaller aan

Die slagoffer word deur paramedici bygestaan. Foto: Stefan Schlimmer

Stefan Schlimmer, ʼn 22-jarige helikoptervlieënier van Benoni, het Vrydag ʼn huurwerker aangekeer wat vermoedelik ʼn ouer man oor ʼn loondispuut aangeval het.

Schlimmer het Maandag aan Maroela Media gesê hy was omstreeks 10:00 onderweg om by die skietbaan in Rynfield te gaan skiet, toe hy sien hoe die vermeende huurwerker en die ouer man stry.

“Ek het met my bakkie by ʼn kruising in Pretoriaweg stilgehou om ondersoek in te stel, toe die werker die ouer man met ʼn stuk beton direk in sy gesig gooi. Die oom het in die aankomende verkeer se baan geval,” het Schlimmer gesê. Hy het sy voertuig dwars oor die pad getrek sodat aankomende verkeer nie die man tref nie. Schlimmer is ʼn lid van die geemeenskapspolisiëringsforum en het boeie in sy voertuig gehad.

“Die aanvaller wou weghardloop, maar ek het hom aangekeer en geboei,” het hy gesê. “Ek het gedink die oom was dood, hy het met sy gesig in die pad gelê, was bewusteloos en kon nie met my praat nie,” het Schlimmer bygevoeg. Schlimmer het nooddienste van ER24 en die polisie ontbied. Die man is in ʼn ernstige toestand na die Netcare Linmed-hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Stefan Schlimmer. Foto: Facebook

ʼn Werker, slegs bekend as Oupa, wat saam met die slagoffer gery het, het aan Schlimmer gesê die verdagte is ʼn huurwerker en hulle het die man opgelaai omdat hulle te veel werk vir die dag gehad het. Toe hulle egter vroeër klaarkry het die verdagte aangedring op ʼn voldag se loon van R120. Die slagoffer het hom glo net R100 gegee, wat glo tot die voorval gelei het.

Maroela Media wag vir terugvoer van die hospitaal om die slagoffer se toestand te bepaal.

Die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ansie Erasmus ·

Mooi so Stefan! Ons het meer sulke jong manne in ons gemeenskap nodig. Trots op jou

Gawie Botha ·

Stefan! baie geluk,ek hou van n man wat sy man kan staan,en die “misdadigers” van die land atent daarop kan maak,genoeg is genoeg,ons sal terug veg,want ons kan terug veg,en ons is paraat vir enige misdadiger!,,,ek Saluut jou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.