Jong man van Australië sterf in haai-aanval

Gracetown, Australië

Gracetown, Australië

‘n 35-jarige man van Australië is Saterdagoggend net na 09:00 in ‘n haai-aanval by Left Handers Beach, Gracetown in Australië, oorlede.

“Sy beserings was só erg dat hy dadelik gesterf het,” het sers. Norm Giocas, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die man se vriende is in kennis gestel van sy afsterwe, maar sy gesin moet eers opgespoor word voordat sy naam bekend gemaak kan word.”

Volgens Giocas is dit ‘n groot skok vir die branderplankrygemeenskap. Hy sê die haai het moontlik een branderplankryer se plank getref en toe die tweede branderplankryer aangeval. Volgens ‘n ooggetuie het een van die branderplankryers die slagoffer op sy plank getrek en hom uit die water gehaal.

Beamptes van St John Ambulance het bevestig dat hy op die toneel dood is.

Die man se geel- en groenkleurige branderplank is uit die water gehaal.

Volgens die polisie is ‘n helikopter gebruik om die man se liggaam van die strand te verwyder.

Die departement van visserye het opdrag gegee dat die 3m-lange witdoodshaai gevang word, aangesien dit ‘n “onmiddellike gevaar” inhou. Dit is egter nie ‘n opdrag om die haai van kant te maak nie, berig The Western Australian.

‘n Aantal strande in die omgewing, insluitend Umbies tot by South Point en Huzzas, North Point en Gracetown-hoofstrand is gesluit.

Daar was die afgelope 10 jaar drie noodlottige haai-aanvalle in die omgewing. Die laaste noodlottige aanval was in Augustus 2010.

Bron: Sapa en The Western Australian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.