Jong pa dood, ma kritiek ná vragmotor hul tref

Wikus Pienaar en Tiffany de Kock. (Foto: Facebook)

’n Jong Bloemfonteinse pa is dood en die ma van sy kind is kritiek beseer nadat ’n vragmotor hulle Saterdag getref terwyl hulle op hul fietse gery het.

Die voorval het op die N8 tussen Bloemfontein en Kimberley plaasgevind en die polisie ondersoek ’n klag van strafbare manslag.

Wikus Pienaar (26) is op die toneel dood verklaar terwyl Tiffany de Kock na die Mediclinic Bloemfontein gehaas is waar sy tans behandel word. Die paartjie is die ouers van ’n twee maande oue babaseun, Aiden.

Gysie Pienaar, besturende direkteur by OFS Smart Repair waar Wikus as paneelklopper gewerk het, het gesê dat hy baie gemis gaan word.

“Dit is vir die OFS-span ongelooflik hartseer om een van ons eie so te verloor en ons neem swaar afskeid. Hy het soveel potensiaal gehad om nog soveel meer te kon bereik.”

Volgens Gysie het Wikus in 2014 as vakleerling by dié maatskappy begin en later as ambagsman gekwalifiseer.

“Hy gaan gemis word. Ons wens alle sterkte toe aan sy familie en klein seuntjie deur hierdie ongelooflike tyd van hartseer en pyn.”

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, het gesê drie fietsryers, onder wie Wikus en Tiffany, het wes gery en ’n wit Volvo oos op pad na Bloemfontein naby iTau Milling & Feeds.

“Dit word beweer dat die fietsryers op die skouer van die baan verby die geel lyn en teen die aankomende verkeer gery het.”

Volgens Mbambo het die vragmotor twee van die drie fietsryers getref.

“Die vragmotorbestuurder het nie ernstige beserings opgedoen nie, maar het aan skok gely,” het Mbambo gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

007 ·

Dis nie Gysie Pienaar nie. Dis Wickus Pienaar, Gysie het n ander van? Baie hartseer vir julle. Sterkte met herstel.

Megan Swart ·

Dagsê Cheetha
Wikus en Gysie se vanne is albei Pienaar. Die artikel is gewysig om onderskeid te tref tussen Wikus en Gysie.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

John ·

‘n Vragmotor ! Alweer, nog ‘n ongeluk met ‘n vragmotor betrokke……hoeveel nou al hierdie maand dit is nog net die 19de !!!!!!!

Deon ·

En hoeveel van hierdie sogenaamde “strafbare manslag” word ooit suksesvol ondersoek of suksesvolg vervolg?

Danie ·

Ek het onlangs op n gedeelte van daardie pad gery.
Die gedrag van die vragmotorbestuurders is skrikwekkend.

Nico ·

Natuurlik sal die drywer niks oorkom nie, waar is die sogenaamde verkeers beamptes wat net sit om bripes te onvang, dit is hoekom daar geen dissipline op die paaie is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.