Jong pa sterf weens “hoofpyn” nadat hy pasgebore seuntjie vasgehou het

Josh en Erica Robison

Josh en Erica Robison

‘n Foto van Josh en sy babaseuntjie volg onderaan die berig. Josh Robison (24), ʼn jong pa van Utah in Amerika, is dood ure nadat hy sy pasgebore seuntjie vir die eerste keer vasgehou het.

Robison, ʼn student aan Brigham Young University, het gedink hy het net ʼn gewone hoofpyn terwyl hy sy seuntjie, Logan, vashou het. Hy het egter skielik in ʼn koma verval en nooit weer wakker geword nie. Sy lewensondersteuningsmasjiene is Vrydagaand afgeskakel.

Hy en Erica was 18 maande lank getroud toe hy op Dankseggingsdag siek geword het terwyl hulle by sy ouers in Fillmore gekuier het. Hy het griepsimptome gehad en dokters het bevind dat hy ʼn infeksie onder lede het wat tot by sy hartklep versprei het, maar wat behandel kan word.

Ná die operasie het hy begin aansterk en hy was Donderdag in die wolke oor sy seun se geboorte. Maar nadat hy Logan vasgehou het, het hy begin kla van ʼn hoofpyn.

“Ons het hom vir ʼn breinskandering geneem en hy het sy bewussyn verloor,” het sy ma Jodi aan KSL gesê. Die skandering het bevind dat hy bloeding op die brein het. Hy is na die teater gehaas, maar dokters het tevergeefs probeer om sy lewe te red.

Jodi sê sy is dankbaar dat haar seun sy eie kind darem kon ontmoet.

josh robison

Josh en Logan Robison

Die gemeenskap het reeds $50 000 (sowat R500 000) ingesamel om die ma en seuntjie te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Justi ·

Dit is so tragies. Baie sterkte aan die familie. Arme man,sy kind net vas gehou en hy is weg.
Sy vrou is seker stukkend binne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.