Jong tennissterre staan nog sterk in Pretoria

Isabella Kruger in aksie in Pretoria. (Foto: X/Tennis Suid-Afrika)

Twee van Suid-Afrika se voorste tennisspelers, Isabella Kruger en Marilouise van Zyl, het na die volgende ronde van die ITF W50-toernooi (WIPHOLD International) in Pretoria deurgedring.

Kruger het op ʼn drafstap met Italië se Maddalena Giordano afgereken. Die eindtelling was 6-3 en 6-2 in die Suid-Afrikaner se guns.

Daarteenoor moes Van Zyl ʼn bietjie dieper delf om met Amanda Elkin Nava van Mexiko klaar te speel. Ná drie stelle was die telling 5-7, 6-4 en 6-4 in haar guns.

Kruger speel vandag teen Jaeda Daniel van die VSA in die tweede ronde, terwyl Van Zyl rakette kruis met Gabriela Knutson van die Tsjeggiese Republiek.

Knutson het juis in die openingsronde van die toernooi vir nóg ʼn Suid-Afrikaner – Hailey Troup – met 6-2 en 6-2 geklop.

Die 17-jarige Van Zyl is egter trots op die veggees wat sy in haar openingswedstryd getoon het.

“Dinge het ʼn bietjie wankelrig begin, maar in die tweede stel het ek op my sterk punte begin fokus en my selfvertroue teruggekry. Dinge het toe beter gegaan en ek kon twee stelle op ʼn streep wen,” het sy aan SuperSport gesê.

“In die geheel is ek tevrede met hoe dinge verloop het. Dit was ʼn groot stryd en ek is trots op myself dat ek dit gemaak het.”

Kruger is tans 676ste op die amptelike WTA-ranglys en die 18-jarige speler het al met ʼn stewige vertoning by die junior Wimbledon-toernooi vorendag gekom.

Die jong Suid-Afrikaanse ster is die dogter van die flank Ruben Kruger wat in 1995 die Webb Ellis-trofee saam met die Springbokspan op Ellispark omhoog gehou het. Hy is tragies in 2010 in die ouderdom van 39 aan breinkanker oorlede.

“Ek was baie klein toe hy oorlede is, maar ek het darem ʼn paar herinneringe aan hom. My ma vertel my ook baie stories van hoe hard hy altyd gewerk het,” het sy vroeër gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Dis nou ‘n sport waar SA basies heeltemal van die padkaart af verwyn het. Ons het tog in die verlede ‘n paar baie goeie spelers opgelewer. Vreemd eintlik siende dat tennis groot is in ‘n land soos Australie byvoorbeeld maar hier kwyn of dalk net nie genoeg belangstelling het nie.

George ·

@Piet, wanneer laas het jy tennis gaan kyk? (eerlike vraag) ek dink in SA word tennis as n “off season” sport gesien, en meeste spelers hou op na Hoerskool. Ons kort ook meer tennis skole of inset op universiteit vlak.

piet ·

Ja George, tennis was nog maar altyd ietwat van ‘n pass-time in Suid-Afrika maar ek dink tog meer beoefen toe ek jonger was. Ons dorp het ‘n tennisklub gehad en hoewel ek self nie lid was nie het ek redelik gereeld saam met die lede gespeel. So terloops, ek het nogal onlangs weer tennis begin kyk. Het die Australiese Ope gevolg. verkies die vroue tennis nou, manstennis word oorheers met kragtige afslane.

George ·

Ek stem 100% saam jou, beslis meer gespeel jare terug. As ek ook so kyk na ouderdomme by ons local clubs, is dit ouer mense, en paar jong laerskool kids wat balslaan. Ek stem, die vroue tennis is baie meer oop as die mans sin, dit kan so bietjie boring raak om dieselfde oor en oor te sien speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.