Jong Turke in Blou ruk op

‘n Mens mag die Bloubul-ondersteuners landwyd gelyk gee dat sedert Matfield en kie se uittog in 2012 en daarna die padgee van een van die Potgieters, Vermaak en Stander in 2013, swartgalligheid die oorhand sou kry.

Dit het nie gebeur nie en Pine Pienaar se jongelinge het die huidige Curriebekerkampioen vanmiddag in sy agterplaas gaan aanvat en byna gewen. Was dit nie vir Tony Jantjies se drie boeboë-skoppe nie, kon die Bulle stert in die lug Pretoria toe vertrek het. Die jong Bulle het weliswaar gesweet voor die WP se tuisskare, veral in die eerste helfte nadat die glibberige Gio Aplon in die agtste minuut oorgeseil het vir vyf punte. Die doelskop was raak en die WP het vroeg aangedui dat hy hard in die middelveld wil slaan.

Die Bulle se dissipline het egter goed gehou en teen die 14e minuut kon Tony Jantjies na ‘n lynstaanoortreding drie punte agter die Bulle se naam skryf. Gary van Aswegen van die WP was ‘n angel in die middelveld en het sy snellers gereeld weggestuur. In die 20ste minuut het hy eiehandig die verdediging aan die slaap gevang en Pat Howard laat oorduik vir vyf punte. Die drie is verdoel en die WP het kort voor rustyd voorgeloop met 14-3.

Jantjies het na die Bulle se volgehoue druk in die WP se kwartgebied die geleentheid gekry om pale toe te korrel en dit 14-6 gemaak. Teen hierdie tyd was dit duidelik dat die Bulle se skrumwerk vol dissipline is en hulle was ongelukkig om na 18 fases nie oor te gaan vir ‘n drie nie. Aan die ander kant het WP soos tiere verdedig. Die manne het gaan water drink met die telling op 14-6 in die guns van die tuisspan.

Dit was egter ‘n ander Bulspan wat na rustyd uit die kleedkamer gekom het, want sy dissipline by die afbreekpunte, lynstane en skrums het daartoe gelei dat Jurgen Visser in die 50ste minuut oordraf vir ‘n Bul-drie. Die aangee was egter vorentoe, maar twee minute later slaag Jantjies met ‘n strafskop vir nog drie punte: 9-14. Die WP het vanmiddag die voordeelyn goed aangeval en op die aanval veral op die middelveld gekonsentreer. Dis juis hier waar Nizaam Carr, agtsteman van WP, die lyn gebreek en onder die pale gaan druk het. Die doelskop was oor en WP het gelyk asof hy tweede rat gekry het.

Francois Venter het egter ander planne vir die Bulle gehad en na 69 minute ‘n mooi drie langs die pale gaan druk. Jantjies het twee punte bygevoeg en skielik was die telling 21-16 in WP se guns. Kort daarna mis Jantjies ‘n strafskop en die laaste agt minute van die wedstryd breek aan. Hy het vir die blaps vergoed deur weer die kol in die 74ste minuut te tref en skielik was die tuisspan net-net voor: 21-19. Die seepgladde Gary van Aswegen het sy skopvoet saamgebring en die telling weer gerek tot 24-19.

Jy kon die gees van afwagting in die paviljoen aanvoel en baie WP- ondersteueners moes teen hierdie tyd al ‘n limonadetjie of twee geskink het. Maar dit was voor die blonde sesvoet-ses, Jean Cook , soos ‘n pyl uit ‘n boog geskiet het vir die Bulle se tweede drie: 24-24. Jantjies kon nie verdoel nie, maar die Bulle het hulself getoon as ‘n jong span wat die potensiaal het om die kampioene vanjaar met groot sukses aan te vat.

Komplimente moet ook gaan aan Rasta Rashivenge wat hierdie wedstryd uiters professioneel geblaas het. Hy het toegelaat dat die spel vloei en het sy stempel vroeg afgedruk by die skrums, losgemale en afbreekpunte. Die Bulle se sukses sal waarskynlik hiedrie seisoen kom van hul goeie skrum- en lynstaanbasisse en die WP se verdediging en agterlynspel sal hom ver neem in die kompetisie.

Puntemakers:
DHL Westelike Provinsie: Drieë: Gio Aplon,Patrick Howard, Nizaam Carr. Doelskoppe Gary van Aswegen (3) Strafdoele: Gary van Aswegen
Vodacom Blou Bulle: Drieë: Francois Venter, Jean Cook. Doelskop: Tony Jantjies Strafdoel: Tony Jantjies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H J Bester ·

Die WP het, soos al vele male tervore, weereens nie ware karakter kon wys nie. Veral gedurende die tweede helfte het sy gedrewenheid en toewyding hom in die steek gelaat. Alistair Coetzee en afrigtingspan sal drasties na hierdie aspek moet kyk.

Die Bulle het, veral in die tweede helfte, met vasbeslotendheid die spel begin dikteer en amper die knoop deurgehaak in hulle guns.

Die Curriebeker-seisoen lê nog voor en blyk dit reeds dat dit nog baie interessanthede kan oplewer. Al die spanne kompeteer sterk en was die punteverskil in die eerste rondtes besonder gering.

Die ondersteuners sien uit na ‘n toernooi wat nog vol opwinding gaan wees.

Griet ·

Moet erken, die jong Bulletjies het my verbaas. Puik gedaan, die toekoms van Blou Bul rugby is BLINK!!!!!

Stem 100% saam met die opmerking oor die skeidsregter. Jason Jaftha se poging as skeidsregter tussen Griquas en die Sharks het erg afgesteek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.