Jong vrou ernstig beseer na vragmotor kar tref

Die wrak van die voertuig. Foto: ER24

ʼn Jong vrou moes uit die wrak van haar voertuig gesny word nadat ʼn vragmotor Donderdag in Potchefstroom in die motor vasgery het. Die passasier in die motor het verskeie beserings opgedoen. Die ongeluk het op die hoek van Chief Albert Luthuli- en Louis le Grange-straat plaasgevind.

Die vragmotor, wat met ʼn vrag goedere op pad na Ventersdorp was, het aan die bestuurderskant van die motor vasgery. Die motor is so erg beskadig dat die brandweer se hulp ingeroep moes word om die jong vrou wat die motor bestuur het, te bevry. ER24-paramedici het haar op die toneel behandel waarna sy per ambulans na die Mediclinic in Potchefstroom geneem is. Volgens paramedici wil dit voorkom asof sy onder meer bene in haar gesig gebreek het.

Die passasier se beserings is minder ernstig, maar sy is ook hospitaal toe geneem.

Die vragmotorbestuurder is nie beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.