Joost-boek: Verhoor staan oor

Van der Westhuizen tydens die opening van die Springbok-museum in Kaapstad op 24 September. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Van der Westhuizen tydens die opening van die Springbok-museum in Kaapstad op 24 September. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Die voormalige Springbok Joost van der Westhuizen se dringende hofaansoek om die publikasie van ʼn boek oor die huwelik tussen hom en Amor Vittone te verbied, sal eers Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor word.

Die dringende aansoek was vir Dinsdag op die hofrol geplaas, maar moes tot Woensdag oorstaan omdat die hofrol vol was. Van der Westhuizen, wat in ‘n rolstoel was, en Gavin Prins, adjunkredakteur van die tydskrif Heat en skrywer van die boek was albei teenwoordig.

Die boek se voorlopige titel is “Joost en Amor – agter die skerms”, en die boek sal moontlik vroeg in Oktober verskyn.

Van der Westhuizen, wat aan gevorderde motorneuronsiekte (MNS) lei, voer in hofdokumente aan dat die boek inbreuk gaan maak op sy reg om te lewe, sowel as sy reg op privaatheid en menswaardigheid.

Ferdi Hartzenberg, Van der Westhuizen se prokureur, het gesê sy kliënt se gesondheid kan nadelig beïnvloed word as die boek gepubliseer word. “Enige onnodige stres en kommer oor die boek in die lig van sy siekte kan tot sy vervroegde dood lei omdat stres dodelik is vir MNS,” het Hartzenberg gesê. “Die vraag wat ons in die hof gaan vra, is of dit regtens aanvaarbaar is dat onder meer Joost se reg op lewe ondergeskik is aan mnr. Prins se reg op vryheid van spraak.”

Prins en die boek se uitgewers, Random House Struik, staan die aansoek teen. Prins het in opponerende dokumente gesê die meeste van die inligting wat in die boek vervat is, was reeds in die openbare domein en dat Joost nog gereeld met die media op Twitter praat oor sy lewe.

Lees ook:
Joost wil biografie keer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Erich Goosen ·

Joos, my goedbedoelde advies aan jou is om die saak te los. Jou langdurige siekte moes sekerlik jou finansiers al kwaai geknou het. Ongelukkig is jy en Amore se stormagtige verlede alombekend en sal die verbod op die boek nie juis dinge verander nie. Dink aan jou kinders en spaar jou geldjies liewer vir hul opvoeding (my mening verander egter nie my siening dat Gavin Prins ‘n poliep is waar ‘n lugverfrisser gespuit moet word waar hy in die nabyheid was nie).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.