‘Joost het privaatlewe in openbaar gehou’

Joost_van_der_westh_258425bDie oud-springbok Joost van der Westhuizen kan nie op sy reg tot privaatheid staatmaak om die publikasie van ʼn boek oor hom en eksvrou, Amor Vittone, te keer nie, het die hooggeregshof in Pretoria Woensdag gehoor.

Frank Snyckers SC, namens die joernalis Gavin Prins en Random House Struik, sê Van der Westhuizen het sy privaatlewe in die openbaar gehou. Hy sê Van der Westhuizen kon nie bewys dat Prins se boek Joost & Amor sy reg op privaatheid, waardigheid of lewe sal skend nie. Van der Westhuizen het motorneuronsiekte (MNS) en is tans in ʼn rolstoel. Van der Westhuizen wil ʼn interdik kry om die verspreiding van die boek te keer. Prins sê 10 000 eksemplare van die boek is reeds gedruk en was op pad om versprei te word toe Van der Westhuizen die aansoek gebring het. Van der Westhuizen beskuldig Prins daarvan dat hy “sensasie soek rondom die omstandighede van ʼn sterwende man.” Van der Westhuizen sê hy het steeds die reg op privaatheid ondanks die feit dat hy ʼn bekende is. “ʼn Boek oor my lewe, in die lig van my huidige omstandighede met ʼn vervreemde vrou en twee jong kinders, sit my onder druk en veroorsaak spanning in my lewe. Die feit dat ek die aansoek moes bring veroorsaak reeds onnodige spanning in my lewe. Die boek het reeds ʼn negatiewe invloed op my gesondheid. Die effek hiervan is dat ek minder dae sal hê om saam my kinders te spandeer en geen reg of voorreg kan sterker as dit wees nie.”

Snyckers voer aan dat Van der Westhuizen enige stres as gevolg van die boek kan vermy deur dit nie te lees of daaroor te praat nie. Hy sê Van der Westhuizen is ʼn openbare figuur wat die media die hof gemaak het en elke aspek van sy lewe openbaar gemaak insluitend sy siekte. Snyckers sê hy kan nie kla dat sy privaatheid geskend word wanneer hy self die dinge wat privaat is openbaar gemaak het nie. Volgens Prins het Vittone ʼn drie uur lange onderhoud aan hom toegestaan en haar samewerking met die boek gegee. Regter Eberhard Bertelsmann sal Vrydagoggend uitspraak lewer in die saak.

Lees ook:
Video: Joost wil publikasie van boek keer
Joost-boeksage nog nie oor
Joost se versoek om boek te keer in hof
Joost-boek: Verhoor staan oor
Joost in hof om boek te keer
Joost wil biografie keer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johanna ·

Die skrywer en samewerker/s van die boek behoort hulle te skaam dat hulle wil munt slaan en sensasie soek uit ‘n sterwende man se verlede. Maak nie saak wie dit is en wat hy gedoen het. Dis absoluut wreed en genadeloos. Gee tog die man rus en vrede om sy laaste dae met sy kinders en dierbares te geniet. Die bietjie geld wat hulle gaan verloor met die boeke wat reeds gedruk is, is niks in vergelyking met Joost se sielerus. Maar nouja, deesdae gaan alles net oor geld en ‘n mens se lewe is niks werd.
Al my simpatie is by Joost. Ek bid vir jou en jou kinders, Joost. Weet net daar is duisende wat jou vergewe het vir die misstappe. Niemand kan klippe gooi want ons is almal sondaars. Vrede vir jou Joost.

Praat saam ·

Ek het ook simpatie met Joost, maar hy is ‘n openbare figuur en indien hy niks het om weg te steek nie waarom die hofsaak? Hy en al die openbare figure moet pa staan vir dit wat hulle doen of gedoen het of nie gedoen het nie.
Indien die boek oor sy sukses as rugby speler gehandel het sou hy ook daarteen gewees het? Ek glo nie.

Nico Kruger ·

Ek stem saam dat sulke boeke uiters swak is. Maar dit maak geld, want mense lees dit. En Joost weet dit want hy het self so boek gekryf waarin hy self al sy privaatheid bekend gemaak het. En hy het baie geld gemaak daarmee.

Tante Afrikana ·

In watter heelal is die ok om geld te maak uit iemand anders se lewe….ag nee sies…

Praat saam ·

Ai my antie, het jy al van die spreekwoord gehoor die en se dood is die ander se brood? Wat is verkeerd met ‘n boek? Het Joost nie ook self en geskryf nie? Wees konsekwent met jou kommentaar.

Anne-Marie ·

Het Prins nou rerig niks anders om oor te skinder en homself besig te hou nie ? Kan dit nie glo nie .. My hart gaan so uit na daai familietjie na wat hul al alles deur is. Dit sal nogal goeie idee wees as iemand bietjie boek skryf oor Prins en al sy manewales – ” he is no angel” en bietjie sy vuil wasgoed in die publiek was en die bordtjies bietjie verhang – HOE sal hy daaroor voel ?
Mense moet net saamstaan en daai boek boikot sou dit gebeur dat hy die “reeds” gedrukte eksemplare mag smous !

Nico Kruger ·

Ek wil darem net my eie mening soos hierbo genoem uitbrei. Ek kies nie kant vir die Prins ou nie. Ek dink ook dit is baie swak om so boek te skryf. Ek sal hom nie lees nie. Ek lees jare reeds geen berig in enige koerant as Joost se naam bo aan verskyn nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.