Joost se toestand onveranderd na stamselbehandeling

Die voormalige Springbok-rugbyspeler, Joost van der Westhuizen, sê sy toestand het nie verbeter of versleg nadat hy verlede maand eksperimentele stamselbehandeling ontvang het vir motorneuronsiekte (MNS) nie.

Van der Westhuizen het Dinsdagoggend in ʼn onderhoud met Talk Radio 702 gesê dat hy ʼn bietjie alleentyd geniet in Dubai waar hy tans werk. Hy het verlede maand ingewillig om ʼn “proefkonyn” te wees vir dié stamselbehandeling wat vir die eerste keer in Suid-Afrika op mense beproef is. Daar is vroeër vanjaar bevestig dat Van der Westhuizen amiotrofiese laterale sklerose (ALS), ʼn soort MNS, het. Van der Westhuizen het tydens die onderhoud met Talk Radio 702 sy dankbaarheid uitgespreek teenoor Suid-Afrikaners vir die afgelope ruk se ondersteuning. Hy het ook van die geleentheid gebruik gemaak om Bryan Habana te loof nadat hy verlede week die rekord gebreek het vir die meeste drieë vir Suid-Afrika. Habana het sy 39ste drie aangeteken in 72 wedstryde om sodoende Van der Westhuizen se rekord van 38 drieë in 89 toetse te oorskry. Habana het na die wedstryd die rekord aan Van der Westhuizen opgedra. ALS is die algemeenste soort MNS. Dit onderbreek die seine wat van die brein na die willekeurige spiere gestuur word en begin gewoonlik in die bene of arms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.