Die Johannesburgse metropolisie het Woensdag ʼn vermeende rower geskiet en gewond terwyl hy en sy medepligtiges glo besig was om ʼn winkel te beroof.
Hoofsupt. Wayne Minnaar, die woordvoerder van die metropolisie, het gesê die verdagte en drie ander gewapende mans het omstreeks 08:00 op die Electric Express-winkel op die hoek van Fox- en Delversstraat toegeslaan. “ʼn Metropolisiebeampte het op die mans afgekom terwyl hulle besig was om televisies en radio’s in ʼn voertuig in te laai,” het Minnaar gesê.
“Die verdagte is in sy been geskiet toe hy gepoog het om te vlug. Hy en ʼn ander verdagte is aangekeer. Twee van die verdagtes kon egter daarin slaag om te ontsnap.”
Die twee mans is by die Johannesburg-sentraal-polisiestasie aangekla van gewapende roof.
Die polisie is nog op soek na die ander twee verdagtes.