‘Jou dae is getel’: Lesufi vra verskoning ná opmerking

Panyaza Lesufi. (Foto: Verskaf)

Panyaza Lesufi, Gautengse premier, moes inderhaas die hand van vrede uitsteek ná ʼn video, waarin hy oënskynlik dreigende opmerkings teenoor ʼn ongenoemde minister maak, soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei is.

Die video is Sondag tydens ʼn Sanco-vergadering in Johannesburg wat Lesufi toegespreek het, geneem. Volgens ʼn inskrywing van Lesufi op X (voorheen Twitter) het hy die byeenkoms in sy hoedanigheid as Gautengse voorsitter van die ANC toegespreek.

Hy het tydens die toespraak teruggekap op kritiek oor die aanstelling van die groep van sowat 6 000 misdaadbestryders in die provinsie.

In die video kan gehoor word hoe Lesufi sê: “Ons het hierdie jong mense opgelei om misdaadvoorkomingsbeamptes te wees. Jy, as minister, weier om hulle te erken.”

Onder luide toejuiging voeg Lesufi dan by: “Jou dae is getel.

“Ons kan nie wanneer jong mense ons help om misdaad te bekamp, hulle ondermyn nie. Jy kan nie, wanneer jy jong mense opgelei het om in ons townships se strate ander jong mense te beskerm wat saans studeer, aan hulle nie erkenning gee nie. Ons sê aan die minister, gee ons die magtiging vir dié jong mense om vuurwapens te dra sodat hulle ons townships kan beskerm en misdadigers in ons gebiede kan verdryf.”

Terwyl Lesufi nie melding maak na presies watter minister hy verwys het nie, het hy onvoorwaardelik om verskoning gevra “aan die betrokke ministers”.

Volgens hom is die video geredigeer en toe versprei nadat hy deelgeneem het aan ʼn interne politieke voorlegging.

“Ongelukkig het hierdie uitgelekte, verkorte uittreksel uit my uitgebreide voorlegging nie ons waardering vir die werk van die polisie en ander wetstoepassingsinstellings in konteks geplaas nie. Dit het eerder ons bekommernisse en frustrasies laat toeneem,” sê Lesufi.

Hy sê ook dat interne politieke debat tussen kamerade en bondgenote soms negatief kan lyk, hoewel daar nie werklik enige kwade bedoelings is nie.

“Aangesien ons frustrasie met misdaadbestryding spruit uit ons daadwerklike gevoel om ʼn verskil te maak, is ons aktief besig om met die betrokke ministers te vergader om die lug te suiwer en bande te herstel,” sê Lesufi.

Lesufi het in Mei vanjaar aangekondig dat 6 000 jong mense as misdaadbestryders opgelei en toegerus is in die hoop om misdaad in die provinsie se brandpunte hok te slaan. Dié projek vorm deel van verskeie planne wat Lesufi het om misdaad in Gauteng te bekamp. Hy het onder meer e-paniekknoppies vir inwoners, die installering van kringtelevisiekameras en ʼn nuwe beheersentrum voorgestel.

Die misdaadbestrydersprojek is egter gou in omstredenheid gedompel ná dit aan die lig gekom het dat die nuwe beamptes se opleiding, toerusting en uniforms die provinsie sowat R450 miljoen gekos het. Action Society het Lesufi se planne as ʼn bemarkingsfoefie bestempel, terwyl ander kenners meen die beamptes se kans om misdaadvlakke te laat daal, is skraal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

annie ·

Wat het geword van die saak van die petrolloriebestuurder wat onder in die duikweg in Benomi vasgesit het? En ‘n klomp mense dood is? Het Lesufi hom vrygespreek?

domheks ·

grootkop gekry – hy kan nou ‘hire’ en ‘fire’ soos hy wil. Wat van die e-tol? Doen iets daadwerklik!

Pietertjie ·

Jip, ANC faksie-gevegte. En Hoed se bende is groter en sterker as Lefoesie s’n.

M ·

Dit verg uiterste genade van Bo, en tonne kalmte, om aan die einde van ‘n produktiewe en uitmergelende werksdag, sulke banale uitsprake te moet probeer hanteer. Dit is sulke tye wat my gemoed sê ” Mog die hele anc ( sic ) spul hulle laaste werksdag beleef” Magtag, hoeveel moet ons ( 5 milj Belastingbetalers ) mee voortgaan om 50 milj “ander” te onderhou ? Genoeg raak nou regtig veels te veel, oorgenoeg.

Lukas ·

Klink soos musiek in my ore, binnekort dalk nog altwee vliee met een klap.

Juanita ·

Sy opvolger sal seker een wees wat sy opleiding in die tronk gedoen het. Hulle wag seker dat hy eers sy studies voltooi.

Miskruier ·

“An Evil enemy will burn his own nation to the ground….. to rule over the ashes” SunTzu

Waarnemer ·

Jan ins al begin fees vier dat cele se dae regtig getel is?

Republikein in die Wes Kaap ·

Goed dat hulle onder mekaar baklei. Die ANC se krake begin wys.

Wiehan ·

Lefusie, jy is reg, die ANC se dae is getel. Julle almal sin.

Papsak ·

Julle almal se dae is getel dit was lekker ne maar nou is dit klaar Lesufi ha ha haaaaaa !!!!!!!!

skurweberg ·

Sy posisie is verskans met blouligbrigades. Onaantasbaar en stinkryk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.