Die akteur Larry Hagman, beter bekend as JR Ewing, het Vrydag in Dallas, Texas, gesterf.
Hagman (81) is in 2011 met kanker diagnoseer. In ‘n verklaring aan die Dallas Morning News het sy familie gesê, “Larry se familie en nabye vriende het in Dallas by hom gekuier. Sy geliefdes was by hom toe hy gesterf het. Hy het vreedsaam gesterf.”
Hagman is met kanker diagnoseer net toe hy weer nuwe episodes vir Dallas begin verfilm het. Dallas het die jaar weer op televisie begin wys ná 20 jaar. “Ek verstaan nie hoekom mense so lief is vir JR nie. Dit is nie net in Amerika nie, dis regoor die wêreld. Frankryk, Engeland, Ierland, Duitsland…” het Hagman gesê. Hagman het ‘n oliemagnaat in dié gewilde reeks gespeel wat aanvanklik tussen 1978 tot 1991 gewys het.
Hagman moes in 1995 ‘n leweroorplanting ondergaan nadat hy met lewersirrose weens uitermatige alkoholverbruik diagnoseer is.
Die tweede seisoen van die nuwe Dallas sal na verwagting op 28 Januarie begin wys. Ses van die 15 episodes is reeds verfilm.