Juan Smith roep halt

Juan Smith

Die Springbokflank Juan Smith het met onmiddellike effek uit alle rugby getree na hy twee jaar weens ‘n hakskeenbesering van die veld af was.

Smith het nog die naweek vir die Cheetahs gespeel in ʼn oefenwedstryd teen die Bulle in Polokwane. Sonder Smith moes die Cheetahs verlede jaar uitspeel vir ‘n plek in vanjaar se Curriebekerreeks. Skaars het Smith in sy eerste oefenwedstryd op die veld gekom, of die impak op die span het uit die Cheetahs se sokkies-optrekvertoning geblyk. Dit is op doktersadvies dat dié haastige yster nou nie meer die spel gaan laat kook nie.

Vir bykans ‘n dekade was hierdie yster ‘n vaste instelling in die Springbokspan, en het hy aan twee Wêreldbeker-toernooie deelgeneem, ook toe die Bokke die William Webb Ellis-trofee omhoog gehou het. In die proses het hy 69 toetse gespeel, en 41 keer die Vrystaatse Cheetahtrui oor sy kop getrek. Hy het ook twaalf keer die Katte verteenwoordig, en 47 keer die Cheetahs se Superspan. Smith, wat die Cheetahs gereeld aangevoer het, het nie soos die meeste hedendaagse spelers wat op Vrystaatse tuisbodem gekweek is, van Grey College af gekom nie. Hy het sy rugby geslyp terwyl hy op JBM Hertzog was, ‘n skool wat nooit juis as rugbykrag gereken is nie.  Op Kovsies was hy ‘n produk van die bekende oom Tat Botha, vir wie hy vol lof is.

Hy beskou die legendariese Springbokflank van die Vrystaat, André Venter as sy rolmodel. Venter, wat nou in ‘n rolstoel oor die weg moet kom, was bekend vir sy passie om fiks te wees – iets wat Smith ook aangetrek het en hom gehelp het om verskeie beserings te oorkom. Hy is met Caroline, ‘n Noord-Kaapse donkerkop getroud, en die egpaar het onlangs ‘n tweede kleinding ryker geword. Gelukkig vir die Cheetahs het die span wat verlede jaar nog die oud-Springbok Hendro Scholtzs uit aftrede gaan terugroep het, vanjaar ‘n oorvloed van voorslag-losvoorspelers. Nogtans, Smith sal gemis word, veral noudat dit lyk of die Cheetahs in die lynstane noustrop trek. Smith, wat in die ou taal ses voet vyf in sy sokkies staan, is nie maklik om ‘n lynstaanbal geklop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.