Julius Malema, die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), en drie ander mans word ondersoek in verband met ʼn beweerde padwoede-aanval wat Dinsdagaand in Polokwane, Limpopo, plaasgevind het.
“Bernard Redelinghuys (22), ʼn inwoner van Polokwane (Pietersburg) het ʼn saak van aanranding en saakbeskadiging by die polisie aanhangig gemaak,” het brig. Hangwani Mulaudzi, ʼn polisiewoordvoerder, bevestig. “Redelinghuys beweer Malema en drie ander mans het hom in ʼn straat in die dorp aangerand,” het Mulaudzi gesê.
“Hy beweer ʼn Mercedes Benz het voor hom ingeswaai toe hy by die straat ingedraai het en dat die Mercedes te naby aan hom gery het. Volgens die motoris het hy sy toeter gedruk om die bestuurder van die Mercedes te waarsku dat hy te naby aan hom is, maar dit was tevergeefs. Die Mercedes het voor die motoris se voertuig tot stilstand gekom,” verduidelik Mulaudzi.
Redelinghuys het aan die polisie gesê drie mans het uit die Mercedes geklim, hom gegryp en rondgestamp en op hom geskree. Malema het toe na bewering uit die motor geklim en by die drie mans aangesluit.
Volgens die motoris het Malema hom geklap en sy voertuig met ʼn voorwerp geslaan. “Dit is in die stadium nog nie bekend waarmee Malema na bewering die voertuig geslaan het nie,” het Mulaudzi gesê. “Die vier het toe glo in die Mercedes geklim en weggery.”
Volgens Mulaudzi kon Redelinghuys net vir Malema herken. Die polisie ondersoek die voorval.
Eyewitness News berig Malema is nie bewus van die aanklag teen hom nie.
Malema is verlede jaar in hegtenis geneem op aanklag dat hy die spoedgrens verbreek het. Hy het glo teen 215km/h in ʼn 120km/h-sone op die N1 in Gauteng gery.
– SAPA
Volgende Idi, Dada, soen myself, Amin. Die weermaguniform en donkerbrille sal hy nog kry.
Daai ou werk saam my pa wat deur julies aan geval is
Sterk manne hierdie Malema en trawante – vier teen een. Wonder of hul nog so braaf sou wees indien daar drie ouens saam met Redelinghuys uit sy motor geklim het. Ons ken die antwoord daarop. Groot menere as hul slagoffers in groepe kan pak maar andersins totale lafaards.