Julius Malemar hoor sy lot

Julius Malema, president van die ANC-jeugliga sal Saterdag sy lot hoor.

Die nasionale dissiplinêre appèlkomitee van die ANC (NDCA) sal na verwagting die uitspraak omstreeks 11:30 tydens ʼn perskonferensie by Luthuli House in Johannesburg lewer. Malema het appèl aangeteken teen sy vyfjaarlange opskorting uit die ANC ná ʼn dissiplinêre verhoor verlede jaar wat hom daaraan skuldig bevind het dat hy verdeeldheid onder lede van die ANC saai en dat hy die party se naam skade berokken het. Dit was gedeeltelik weens uitsprake oor ʼn regimeverandering wat in Botswana moet plaasvind.

Appèl is ook ingedien teen die opskorting van die ANC-jeugliga se woordvoerder, Floyd Shivambu, adjunk-president Ronald Lamola, tesourier-generaal Pule Mabe, sekretaris-generaal Sindiso Magaga en adjunk-sekretaris-generaal Kenetswe Mosenogi. Hul verdedigingspan het in Januarie mondelinge argumente by die NDCA ingedien in ʼn poging om die voorsitter van die NDCA, Cyril Ramaphosa, te oortuig dat hulle vroeër nie die geleentheid gebied is om strafversagting te pleit nie.

Die jeugleiers voer verder aan dat dissiplinêre komiteelede, insluitend voorsitter Derek Hanekom en minister van minerale hulpbronne, Susan Shabangu, hulleself moes onttrek het. Hulle het ook gesê dat die uitspraak en strawwe op ʼn verouderde grondwet van die ANC-jeugliga baseer is. Advokaat Patrick Mtshaulana het in daardie stadium gesê dat indien hulle die saak verloor, hulle die aangeleentheid na die ANC se nasionale uitvoerende komitee kan verwys, die verkiesingskonferensie in Mangaung kan versoek om die opskortings in heroorweging te bring of na die hof toe kan gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.