Justin Bieber se lewe in gevaar?

Justin Bieber. Foto: PA

ʼn Beweerde komplot om die Kanadese popsensasie, Justin Bieber (18), te vermoor, is oopgevlek.

Volgens berigte is twee mans verlede maand in Vermont en New York in Amerika in hegtenis geneem nadat die polisie vermoed het hulle het met ʼn gevonnisde moordenaar, Dana Martin, saamgesweer om dié tienerster en sy lyfwag te vermoor.

Volgens E! Online het Martin die twee verdagtes gehuur om Bieber en sy lyfwag te verwurg en kastreer. Voor dié plan egter uitgevoer kon word, het Martin, wat glo obsessief oor Bieber is, die waarheid verklap.

Scooter Braun, Bieber se bestuurder, het aan die US Weekly gesê hulle doen alle stappe om ten alle tye Bieber en al sy aanhangers se veiligheid te verseker.

Bieber het vandeesweek in Suid-Afrika ʼn rekord opgestel nadat al 62 000 kaartjies vir sy konsert by die ENB-Stadion in Johannesburg binne ʼn uur uitverkoop is. Hy tree volgende jaar 8 Mei in Kaapstad en 12 Mei in Johannesburg op.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.