Die tienersensasie Justin Bieber (19) is Woensdag in Toronto, Kanada, amptelik van die aanranding van ʼn limousine-bestuurder aangekla.
Hy sal op 10 Maart in die hof verskyn nadat hy homself aan die polisie oorgegee het, het die Toronto-polisie in ʼn verklaring gesê.
Hy het die bestuurder glo “ʼn paar keer” agter teen die kop geslaan. Die limousine het Bieber en vyf ander in die vroeë oggendure van 30 Desember by ʼn nagklub opgelaai. Bieber was glo voor die tyd by ʼn hokkiewedstryd.
“Terwyl die groep na ʼn hotel toe gery het, was daar ʼn onderonsie tussen een van die passasiers en die bestuurder van die limousine,” aldus die polisieverklaring. “ʼn Man het tydens die onderonsie die bestuurder ʼn paar keer agter die kop geslaan. Die bestuurder het afgetrek, uitgeklim en die polisie ontbied. Die man wat hom aangerand het, het die toneel verlaat voordat die polisie opgedaag het.”
Bieber het ook in Australië en Brasilië sy moses teengekom nadat hy graffiti gespuitverf het. In Brasilië is Bieber in ʼn berugte Rio-bordeel afgeneem. Hy het later tevergeefs probeer om prostitute by die luukse Copacabana Palace in te laat.
Bieber is op 23 Januarie by Miami Beach in Florida in hegtenis geneem op aanklag van dronkbestuur, verset teen inhegtenisneming en bestuur met ʼn rybewys wat reeds verval het. Hy ontken alle aanklagte teen hom.
Die Withuis moet intussen reageer op Bieber se swak gedrag nadat die president ʼn petisie met meer as 155 000 handtekeninge ontvang het waarin versoek word dat die Kanadees gedeporteer word. -SAPA
Lees ook:
Video: Justin Bieber kry borgtog
Justin Bieber vas oor dronkbestuur, onwettige straatresies