“Jy kan nie sing nie” toe dreig hy met ‘n bom

‘n 70-jarige man van Japan was só ontsteld dat ‘n televisie-talentprogram hom verwerp het, dat hy glo gedreig het om die program se uitsaaier op te blaas.

Kazumi Yaoita het aansoek gedoen om aan ‘n NHK-sangkompetisie deel neem. Dié program word landwyd elke Sondagmiddag in Japan vertoon. “Yaoita het gehoop om ‘n langverwagte droom te vervul,” het ‘n polisiebeampte in die stad Niigata aan AFP gesê. Maar die pensioenaris se aansoek is verwerp nog voordat hy aan die oudiesie kon deelneem. “Yaoita het glo net ‘n poskaart van die program se vervaardigers ontvang wat aandui dat hy nie gekwalifiseer het nie.”

Yaoita was ontsteld en het NHK van sy eie selfoon af gebel en gesê hy sal die program se gebou opblaas. “Hy het aan die polisie gesê hy is dol daarvoor om karaoke te sing en al sy vriende sê hy is ‘n goeie sanger. Maar hy is met ‘n enkele poskaart verwerp, het hom ontstoke gelaat,” het die polisiebeampte gesê.

Die polisie het die selfoonnommer, wat aan die ontvangskant vertoon het, nagespoor. Yaoita is in hegtenis geneem op aanklag van kragdadige obstruksie van besigheid. Indien hy skuldig bevind word, kan hy tot drie jaar tronkstraf gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.