Kaapse boer word al dae lank vermis

Vermis: Andrew Whittingdale

Vermis: Andrew Whittingdale

Andrew Whittingdale, ʼn 56-jarige boer van die Wes-Kaap wat twee plase daar besit, het op 3 Januarie onder vreemde omstandighede verdwyn.

Richard Whittingdale, Andrew se broer, het Donderdag aan Maroela Media gesê sy broer is verlede Vrydag omstreeks 16:00 vir die laaste keer op die R62-pad deur sy huishulp gesien waar hy glo in ʼn wit BMW saam met twee wit mans gery het. Sy het langs die pad gewag vir ʼn rygeleentheid toe sy die voertuig opgemerk het.

Voor dit is hy omstreeks 13:00 deur twee van sy werkers op sy plaas, Egypt naby Barrydale, gesien toe hy in ʼn wit BMW geklim het.

“Sy werkers het op ʼn dak gewerk en gesien hoe hy in die BMW klim, maar hulle het nie onraad vermoed nie en gedink dit is vriende van hom, omdat hy self in die voertuig geklim het,” het Richard gesê.

“Ongeveer in daardie stadium het hy ʼn SMS na sy vennoot gestuur en gesê hy benodig dadelik R200 000. Dit is egter uiters ongewoon van hom om só iets te doen, want hy bel gewoonlik sy vennoot persoonlik as hy geld vir iets benodig. Dit laat ons dink dat hy geforseer was om die SMS te tik. Sy vennoot was egter in Brasilië so niks het van die SMS-versoek gekom nie.”

Richard het gesê hulle het vir Andrew op sy ander plaas, Makouvlei, gewag en hulle sou later die aand braai, maar hy het nooit opgedaag nie. Hulle het begin bekommerd raak toe hulle niks van hom hoor nie, en sy selfoon afgeskakel was. Hulle het Sondag ʼn vermistepersoon-saak by die Ladysmith-polisiestasie aanhangig gemaak.

“Sover kon die polisie bepaal dat hy Saterdagoggend omstreeks 09:30 al sy geld uit ʼn kitsbank in Montague onttrek het. Die polisie is Donderdag na die bank om na kringtelevisiebeeldmateriaal te gaan kyk.” Richard sê ook hulle het ʼn hofbevel bekom om sy broer se selfoonrekords na te gaan met die hoop dat dit met die ondersoek kan help.

Andrew het ‘n kenmerkende letsel op sy gesig. Sy linkerarm is ook swak en hy loop mank met sy linkerbeen. Mense wat weet waar Andrew hom bevind, kan Richard by 084 793 2013 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ria Maritz ·

Hoop en bid hy is ongeskonde en spoedig terugkeer huistoe.

Jan Greyling ·

Kom ons wees ‘n verlengstuk van die polisie se ore en oe en kyk skerp uit vir enigiets of iemand wat in die soektog na Andrew – as ‘n kosbare vir sy familie en ‘n kosvoorsiener van ons land – kan help. Ek nooi julle om saam tot God te bid om deur Sy Gees wysheid te gee aan die soekspan en beskerming te gee aan hierdie vermiste boer en sy geliefdes. Hy alleen ken die antwoorde op die vrae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.