Kaapse brande laat 3 dood, 17 dakloos

Argieffoto

Brande in en om Kaapstad het die afgelope naweek die lewens van drie mense geëis en 17 mense sonder ʼn heenkome gelaat.

Volgens Wilfred Solomons-Johannes, Kaapstad se rampbestuur-koördineerder, is Samuel Petrus de Bruyn Sondagoggend dood terwyl hy in ʼn toegemaakte braai-area in Ravensmead geslaap het en ʼn elektriese kortsluiting ʼn brand veroorsaak het.

Norman Veldtman (39) en Fadio Hendricks (4) is ook Sondag dood nadat ʼn brand in hul plakkershuis in Overcome Heights in Seawinds ontstaan het. ʼn Elektriese stoof wat oorverhit het, het glo dié brand veroorsaak. Vier plakkershuise is deur die brand verwoes.

Twee huise in Matroosfontein is ook verwoes nadat ʼn brand ontstaan het toe ʼn 3-jarige glo met vuurhoutjies gespeel het. “Ons versoek ouers om uiters versigtig te wees en om nie kinders sonder toesig te laat nie. Kinders wat met vuurhoutjies speel, kan verwoestende brande veroorsaak wat noodlottige gevolge kan hê,” het Solomons-Johannes gesê.

Die stad se rampsbestuurspanne het die brandslagoffers gehelp met kospakkies, klere en komberse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.