Kaapse e-tol: Stad soek dokumentasie

Die stad Kaapstad het vandag die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) in die Wes-Kaapse hooggeregshof die stryd aangesê oor die voorgestelde N1-N2 Wynland-tolprojek in die provinsie.

Die stad het gesê hulle soek toegang tot Sanral se volledige lewensvatbaarheidstudieverslag vir die projek.

Ron Paschke, verteenwoordiger van die stad, sê Sanral het die stad probeer ontduik deur nie al dié inligting voor die tyd beskikbaar te maak nie. Die stad wil ʼn dringende interdik bekom om Sanral te verhoed om met hul N1/N2-Wynland-tolprojek voort te gaan, alvorens die hof die wettigheid van die projek nagegaan het.

Die stad voer onder meer aan dat Sanral sekere belangrike dokumente weerhou het tydens die besluitnemingsproses. Dit is hul mening dat Jeff Radebe, die destydse minister van vervoer, besluit het om die projek goed te keur sonder dat hy die volledige koste van die projek in ag geneem het, en dat hy daarom ʼn oningeligte besluit geneem het.

Regter Ashley Binns-Ward het gesê hy is in besit van ʼn verklaring van Radebe wat sê die stad het wel die dokumente ontvang. Binns-Ward sê egter daar is wel ʼn moontlikheid dat Radebe nie al die nodige dokumentasie gesien het nie, of dat hy dalk nie bewus was daarvan nie.

Die saak duur Vrydag voort wanneer Sanral sy argumente gaan voorhou.

Lees ook:
Nóg tolpaaie glo beplan
DA gaan Kaapse tolprojek beveg
Tolhekke glo “anders” in Kaapstad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.