Kaapse pediater steeds vermis

Dr. Louis Heyns

Dr. Louis Heyns (59), ’n dosent aan die Universiteit van Stellenbosch (US) se mediese fakulteit en ook ’n pediater by die Tygerberg-hospitaal, word steeds vermis nadat hy Woensdagaand vir die laaste keer gesien is.

Kapt. FC van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê die omstandighede rondom die verdwyning van Heyns word nog ondersoek, en hy word steeds as vermis beskou.

Maroela Media het Vrydag berig volgens Heyns se skoonseun, Alwyn Swart, is Heyns Woensdag omstreeks 20:30 vir die laaste keer gesien. “Hy het sy ouer broer in Somerset-Wes gaan besoek. Hy het nog vir sy broer gesê hy moet gaan voorberei vir ʼn lesing wat hy Donderdag sou aanbied,” het Swart gesê.

Heyns het onderweg na sy huis in Welgelegen, sowat 40 minute se ry vanaf Somerset-Wes af, vermis geraak. Sy vrou het onraad vermoed toe hy teen 00:00 nog nie by die huis opgedaag het nie. Sy het hom op sy selfoon in die hande probeer kry, maar sy selfoon was afgeskakel. Die gesin het Heyns Donderdag by die polisie as vermis aangemeld. Die Somerset-Wes-polisie ondersoek die saak.

Die polisie het intussen die gesin versoek om nie met die media te praat nie, aangesien dit die ondersoek kan belemmer.

Martin Viljoen, ’n woordvoerder van die US, het gesê die bestuur van die universiteit is besorg oor sy verdwyning. “Ons dink aan en bid vir sy gesin en ons vertrou dat hy ongedeerd opgespoor sal word,” het Viljoen gesê.

Sy voertuig, ʼn donkergrys Peugeot 308, het nie ʼn satellietopsporingtoestel in nie. Enigiemand wat sy voertuig met die registrasienommer CY121038, gewaar of weet waar hy hom bevind, word versoek om die ondersoekbeampte, Hannes Niemandt, te skakel by 076 410 2500 of 021 850 1325. Mense kan ook Stop Misdaad bel by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.