‘n Kaapse visserman word vermis nadat hy Vrydag van ʼn kreefboot naby Kaappunt Natuurreservaat oorboord geval het.
“Die boot het nette naby die kus ingetrek toe die skroef met seewier verstrengel geraak het,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê. “Terwyl hy van die seewier ontslae probeer raak het, het ʼn golf die boot getref en die 30-jarige man het oorboord geval.”
Die bemanning het eers opgemerk die man word vermis toe hulle herstel het nadat die boot byna omgeslaan het. ʼn Lug-, see- en kussoektog is van stapel gestuur en die man se lewensreddingsbaadjie is opgespoor.
Lambinon sê digte mis verhinder die soektog.
ʼn Geregtelike doodsondersoek sal gedoen word.