Kaapse vrou verduister glo meer as R260 000

Colleen Isaacs (36) van die Kaapse Vlakte wat daarvan beskuldig word dat sy ʼn slenter beraam het om haar werkgewer se geld te verduister, het Woensdag in die Bellville gespesialiseerde handelshof verskyn.

Landdros Sabrina Sonnenberg het Isaacs nie gevra om te pleit op die aanklag van bedrog ter waarde van R266 407 nie. Volgens die klagstaat het sy tussen Maart 2008 en April 2010 vir die maatskappy Qualichem Coast (Edms.) Bpk as ʼn faktuurklerk gewerk.

Haar pligte het die prosessering van verkope tussen Qualichem en Genkem Retail ingesluit. Qualichem-klante het kontant by aflewering betaal, maar sy het glo dié kontantfakture gekanselleer deur vals kredietnotas vir die volle bedrag van die onderskeie transaksies op te stel. Die kredietnotas het die indruk geskep dat die klante óf nie die aflewering ontvang het nie, óf dat die faktuur foutief was.

Isaacs het glo die kredietnotas sonder die magtiging van die rekenmeester of takbestuurder goedgekeur.

Sy het ook tot haar voordeel die voorraad op die stelsel manipuleer.

Weens die swendelary was dit nie vir haar moontlik om die boeke te balanseer nie, maar om dié ongerymdhede weg te steek het sy selfs nóg fakture gekanselleer.

Sy het ʼn waarskuwing ontvang en moet op 15 Augustus weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.