Kaapstad-inwoners kan beboet word oor papierlanterns

Argieffoto.

Argieffoto.

Die stad Kaapstad het Woensdag inwoners gewaarsku dat papierlanterns ʼn groot brandgevaar inhou en dat mense wat die lanterns in die lug vrylaat, swaar beboet kan word.

Theo Layne, die stad se woordvoerder van brand- en reddingsdienste, het gesê ʼn boete van R1 500 kan opgelê word vir die oortreding van die munisipale Wet op Gemeenskapsbrandveiligheid. “Die stad wil inwoners herinner dat dit onwettig is om papierlanterns, ook bekend as Chinese lanterns, in die lug in te laat,” het Layne gesê. “Die gebruik van die lanterns, veral in gebiede waar daar baie plantegroei is, is ʼn groot brandgevaar en dit is ʼn oortreding van die stad se wet.”

Die kers wat in die lantern aangesteek word, veroorsaak hitte wat die lantern in die lug in laat styg. Dit bly in die lug totdat die vlam doodgaan en die lantern grond toe val. “Daar is ‘n moontlikheid dat die lantern grond toe val terwyl die kers nog aan die brand is, wat wegholbrande kan veroorsaak. Party lanterns kan honderde meter sweef van waar dit gelanseer is.”

Hy het ook gesê as die lanterns eers in die lug sweef, dit misgis kan word met ligpistole wat in ʼn noodgeval afgevuur word, wat dan veroorsaak dat die stad se nooddienste onnodig daarop reageer.

“Ons doen ‘n beroep op die publiek om hulle te weerhou om die lanterns te gebruik en te help om te voorkom dat nooddienste moet reageer op voorvalle wat verhoed kon word,” het Layne gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.