Kaapstad-inwoners wil haai-kykers hê

Branderplankryers en lyfplankryers van Kogelbaai in Kaapstad het ten gunste van ʼn program gestem wat sal verseker dat iemand op die uitkyk sal wees vir haaie, het Shark Spotters Dinsdag gesê.

“Ons het gisteraand ʼn vergadering gehad om te bespreek of hulle só ʼn program wil implementeer en hulle het eenstemmig ingestem,” het projekbestuurder Sarah Titley gesê. “Ek sal teen volgende week aan die stad Kaapstad terugvoer gee rakende logistieke en begrotingsvereistes.” Sowat 80 persone, insluitend talle van die Bolandse Vereniging vir Branderplankryers, het die vergadering Maandagaand bygewoon ná die afsterwe van David Lilienfeld Donderdag.

Lilienfeld, ʼn lid van die SA lyfplankryspan, was die middag saam met sy broer by die gewilde branderplankry-gebied, Caves, in Kogelbaai toe die witdoodshaai hom aangeval het.

Met geen haaikyk-program in die gebied nie, voel talle dat dit te gevaarlik is om in die water in te gaan. Talle persone wat die vergadering bygewoon het, het voorgestel dat ʼn heffing by lidmaatskapfooie van brander- of lyfplankryklubs gevoeg kan word. Hulle was ook ontvanklik vir die idee dat maandelikse debietorders ingevorder kan word om die kostes te dek. Aanbiedings is gemaak om ʼn hut en vlagpaal op te rig vir die persoon wat op die uitkyk sal wees vir haaie. Die program is reeds by ses strande geïmplimenteer en kostes beloop sowat R1 miljoen per jaar. Finansiering word hoofsaaklik deur donasies en die stad gedek.

Vier permanente programme is reeds in werking by Muizenberg, St James/Kalkbaai, Vishoek en Noordhoek. Tussen Oktober en April was haaikykers ook oor naweke, op publieke vakansiedae en met skoolvakansies aktief by Clovelly en Glencairn. Indien die program in werking gestel word, sal ʼn permanente haai-kyker vir ʼn jaar lank tussen 08:00 en 18:00 op ʼn berg by Caves sit. Sodra die jaar verby is, sal ʼn span die moontlikheid ondersoek om die haai-kyker slegs in somermaande te gebruik. Titley sê dit is duidelik dat dit ʼn tydjie sal neem om haai-kykers op te lei en daarom kan die program nie onmiddellik in werking tree indien dit goedgekeur word nie. Intussen het sommige branderplankryers aangedui dat hulle sal uitvind hoe die bestaande haai-kykers werk om sodoende ʼn tydelike oplossing te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.