Kaapstad is die fiksste

Argieffoto

Kapenaars is glo, volgens ‘n studie deur Discovery Vitality, die fiksste in die land.

“Die Moederstad se stedelike infrastruktuur bied aan Kapenaars die beste geleentheid binne ‘n omgewing wat oefening fasiliteer en aanmoedig,” het die maatskappy Donderdag in ‘n verklaring gesê. “Kaapstad se inwoners het die laagste motor-afhanklikheid in die land en maak die meeste van openbare vervoer gebruik.” Die stad het ook die grootste aantal sportklubs, gimnasiums, fiksheidfasiliteite en parke per 1 000 mense.

Die Discovery Vitality Fiksste Stad-indeks is ontwikkel om te bepaal hoe elk van die land se ses grootste metropolitaanse gebiede vaar in fisiese aktiwiteit wat verband hou met gesondheid en infrastruktuur, wat fisiese aktiwiteit aanmoedig. Data vir die indeks is glo versamel deur “betroubare hulpbronne en navorsing wat aan die publiek beskikbaar is” en is in vier kategorieë verdeel, naamlik persoonlike gesondheid, fisiese aktiwiteit wat self aangemeld word, vervoer en sportfasiliteite.

Nelson Mandela Bay is die tweede fiksste stad. Pretoria, eThekwini, Johannesburg en Ekurhuleni volg daarna.

Craig Nossel, hoof van Vitality-welstand by Discovery, het gesê hy hoop die indeks sal beleidmakers en plaaslike regerings aanmoedig om “ondersteunende omgewings” te skep om die gesondheid en fisiese profiel van hul stede te verbeter. “Ons wil graag hê die indeks moet as ‘n motivering dien om mense aan te moedig om geleenthede te soek om aktief te raak,” het Nossel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.