Kaapstad kry dalk Madiba-standbeeld

Die standbeeld van oudpresident Nelson Mandela by die Sandton Square in Johannesburg.

ʼn Standbeeld van oudpresident Nelson Mandela gaan dalk voor die Kaapstadse stadsaal opgerig word. Dit is waar Mandela sy eerste toespraak gelewer het nadat hy uit die gevangenis vrygelaat is, het die Cape Times Donderdag berig.

DA-raadslid Leonore van der Walt het Woensdag tydens ʼn raadsvergadering voorgestel dat ʼn komitee saamgestel moet word om die prosedures en befondsing te bespreek.

Raadslid André Fourie het gewaarsku dat behoorlike konsultasie moet plaasvind om die “debakel” soos die onlangse voorstel om aan die Amerikaanse president, Barack Obama, die vryheid van die stad-toekenning te gee, te vermy. Die voorstel is deur sommiges erg gekritiseer. “Dit moet glad nie gebeur met ʼn persoon van Mandela se statuur nie,” het Fourie gesê.

Tony Ehrenreich, ANC-leier in die stadsraad, het gevra vir ‘n “koherente nasionale beleid” om Mandela te vereer, anders sal die standbeeld in Kaapstad ‘n “DA-foefie” wees, het hy gesê.

Na wat berig word, sal die proses sowat R1 miljoen kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.