Die name van twee mans wat dood en twee wat kritiek beseer is ná ‘n ontploffing Woensdagmiddag by ‘n gasaanleg in Kaapstad, is bekend gemaak.
“Martin O’connor, ‘n kontrakteur en tegnikus, is op die toneel by die Atlas Gardens-fabriek dood. ʼn Man van Indië, Saji Thekkemalayil Chandrasekharaan, het ‘n been tydens die ontploffing verloor en is later in die hospitaal dood,” het Wilfred Solomons-Johannes, woordvoerder van die stad se rampbestuureenheid, Donderdag gesê.
“Brandon Pretorius het albei sy bene verloor en is in ʼn kritieke maar stabiele toestand. Jean Rossouw is ernstig, maar stabiel. Vier ander slagoffers het geringe beserings tydens die ontploffing opgedoen,” het Solomons-Johannes bygevoeg.
Maroela Media het Woensdag berig ’n kompressor het omstreeks 16:00 by die fabriek in Contermanskloofweg, Durbanville, ontplof. “Die man wat dood is, is ontbied om instandhoudingswerk op die kompressor te doen,” het Theo Layne, woordvoerder vir die stad se brand- en reddingsdienste, gesê. Buiten die man wat die instandhoudingswerk gedoen het, is alle slagoffers werknemers van die fabriek.
Die gebou se struktuur is intussen as onveilig verklaar. Die oorsaak van die ontploffing word steeds ondersoek.