Kaapstad: Openbare paaie moontlik oopgestel vir skaatsplankryers

Argieffoto

‘n Stryd broei tans tussen stadsraadlede van Kaapstad oor ‘n nuwe skaatsplankrybeleid vir die stad.

Die Cape Times het Maandag berig dat Brett Herron, burgemeesterskomiteelid van paaie, vervoer en stormwater, ‘n taakspan saamgestel het om skaatsplankparke en -paaie vir skaatsplankryers te ontwerp. Die span sal oorweeg om die stad se munisipale regulasies te verander om skaatsplankryers op openbare paaie toe te laat. JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, voel egter dat dit nie ‘n “wyse besluit” is nie. “Die onbeheerde gebruik van openbare paaie is gevaarlik,” het Smith gesê.

Skaatsplankryers het vroeër hul misnoeë uitgespreek dat daar nie voldoende fasiliteite is vir hulle nie en voer aan hulle word geteister deur boetes wanneer hulle van openbare paaie gebruik maak. “As ons ‘n inklusiewe stad wil bou, dan moet ons seker maak dat ons niemand uitsluit nie,” het Herron gesê. Hy sê dit is die departement van vervoer se verantwoordelikheid om te besluit watter paaie aan skaatsplankryers oopgestel gaan word.

‘n Skaatsplankryer van Kaapstad het in Februarie vanjaar teen só ‘n hoë spoed teen Kloofnekrylaan afgery dat hy ‘n 60km/h-spoedgrenskamera laat afgaan het. Die skaatsplankryer is weens ‘n gebrek aan getuienis nie vervolg nie. Klik hier om ‘n video van dié waaghals te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.