Kaapstad word van erfenis beroof

Foto: Jenna Etheridge, SAPA

Diewe is besig om Kaapstad se erfenis stuk-vir-stuk te stroop deur antieke gietystermetaalwerk by Victoriaanse huise te steel.

Die huise in die stad kon tot onlangs nog aan hul “Broekie Lace”-metaalwerk uitgeken word, maar gedurende die afgelope twee maande is verskeie lae heinings en hekkies uitgeruk.

André Traut, woordvoerder vir die polisie in Kaapstad, het gesê ten minste 11 gevalle is in September en Oktober in Oranjezicht, Tuine en Tamboerskloof aangemeld.

‘n 32-jarige man is intussen in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn.

Dié erfenismetaal word deur die Nasionale Erfenishulpbronwet beskerm, sê Richard Bosman, direkteur van veiligheid en sekuriteit in Kaapstad. Volgens Bosman mag die metaal slegs verwyder word indien ‘n toestemmingsbrief deur Erfenis Wes-Kaap uitgereik is, of indien die stad dit goedgekeur het indien dit in ‘n bewaringsgebied voorkom.

Andrew Hall, hoof uitvoerende beampte van Erfenis Wes-Kaap, het gesê klein stukkies van die metaal kan dupliseer word, maar dit sal afbreuk doen aan die outentiekheid van die gebou. “Dit is ‘n ernstige saak, want die karakter van die gebied word uitgeken aan soortgelyke argitekselemente. Dit kan dupliseer word, maar dit is baie moeilik en baie duur,” het Hall gesê.

Foto: Jenna Etheridge, SAPA

‘n Maatskappy in Kaapstad wat Victoriaanse metaalwerk dupliseer beweer hy is die enigste in die land. Max Teichmann, van Heritage Castings, sê daar is ‘n skerp toename in die aanvraag om gesteelde metaalwerk te vervang. Hy het sowat 30 versoeke oor die afgelope twee maande ontvang. “Dit is ‘n toename in besigheid wat ek nie wil sien nie. Dit beteken ‘n kosbare deel van die geskiedenis gaan verlore,” het Teichmann gesê. “Talle van dié Victoriaanse elemente is meer as 100 jaar oud.”

Volgens die polisie word die gietyster-metaal moontlik aan skrootmetaalhandelaars verkoop. Nie een skrootmetaalhandelaar in die stad het egter aangedui dat hulle so iets ontvang het nie. Handelaars betaal gemiddeld tussen R1 en R2 per kilogram vir gietyster-metaal.

Teichmann sê handelaars moet beter oor die saak ingelig word. Hy stel voor dat foto’s aan hulle gewys word sodat hulle dit beter kan uitken. Vir diegene wat die metaal steel, stel hy voor dat hulle ‘n ruk lank by ‘n smeltery moet werk. “As hulle een stukkie dupliseer het, dan sal hulle nooit weer ‘n gedeelte uitbreek nie,” meen Teichmann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.