“Kabeldief” op golflandgoed geskiet

ʼn Vermeende kabeldief is Maandagaand op ʼn golflandgoed in Irene, Gauteng, geskiet en gewond.

“Sekuriteitbeamptes wat op die landgoed werk het omstreeks 22:00 op drie mans afgekom wat glo besig was om kragkabels te steel. Die wagte het op die verdagtes begin geskiet waarna hulle glo te voet vlug geslaan het,” het Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, gesê.

Die beamptes het die verdagtes gesoek maar kon niemand kry nie. “Dinsdagoggend omstreeks 08:00 is een van die mans in ʼn veld op die landgoed gevind. Hy het ʼn skietwond in sy bors gehad en was steeds lewendig en by sy bewussyn. Hy is op die toneel gestabiliseer en na ʼn staatshospitaal geneem,” het Jackson gesê. Die Sunnyside-polisie ondersoek die voorval.

Dié voorval volg kort nadat ʼn beweerde kabeldief Maandagoggend by ʼn kragsubstasie in Roodepoort, wes van Johannesburg, doodgeskok is. ʼn Brand het gevolglik uitgebreek en die gebied sonder krag gelaat. Die kragtoever is laat Maandagaand herstel, maar City Power het gewaarsku dat die kragtoevoer in die gebied onder groot spanning is terwyl herstelwerk aan die substasie gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.