‘Kabeldiewe’ op heterdaad betrap

Vier mans wat Donderdag in die vroeë oggendure vermoedelik koperkabels wou steel is deur die polisie in hegtenis geneem.

Insp. Kobeli Mokheseng, ʼn woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie in Gauteng, sê die mans het kort na middernag by ʼn perseel van die munisipaliteit in Tembisa ingebreek.

“Veiligheidswagte het die drie verdagtes gesien toe hulle die slot van die hoofhek afgesny het. Die verdagtes het toe met ʼn wit Nissan afleweringsvoertuig die perseel binnegery,” het Mokheseng gesê. Die veiligheidswagte het die polisie en die anti-kabeldiefstaleenheid ontbied.

“Die verdagtes is op heterdaad betrap toe hulle besig was om ʼn houtrol oop te breek wat 115m koperkabel bevat met ʼn waarde van sowat R240 000. Hulle was met ystersae, hamers en messe gewapen,” het Mokheseng bygevoeg.

Die verdagtes moet binnekort in die Tembisa-landdroshof verskyn op aanklagte van opsetlike saakbeskadiging en diefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.