Kabinet versoek kiesers om te registreer

IEC-280Die kabinet het Donderdag ʼn beroep op alle ongeregistreerde kiesers gedoen om die komende naweek by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) te registreer vir volgende jaar se verkiesing.

“Ons versoek alle ongeregistreerde kiesers, veral jongmense van 18 jaar en ouer wat vir die eerste keer mag stem, om op 9 en 10 November te registreer,” het Collins Chabane, ʼn minister in die presidensie, gesê.

Hy het gesê die kabinet soek ʼn groot opkoms van kiesers vir die 2014-verkiesing.

Alle binnelandse sake-kantore sal oop wees om mense te help om die nodige dokumentasie te bekom wat hulle nodig het om te registreer.

Die OVK het Woensdag gesê alles is gereed vir kiesersregistrasie-naweek. Stemgeregtigdes kan die naweek tussen 08:00 en 17:00 een van 22 263 registrasiepunte landwyd besoek om te verseker dat hulle in staat is om in volgende jaar se algemene verkiesings te stem.

Mense wat reeds vir vorige verkiesings geregistreer het, kan hul ID-nommer na 32810 stuur om te sien waar hulle geregistreer is en mag stem.

Mense wat wil registreer, benodig hul groen strepieskode ID-boekie.

Vir meer inligting en waar om te registreer besoek www.elecions.org.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.