Kaboel-bomaanval: Name van drie SA oorledenes bekend

Fraser Carey. Foto: Facebook

Die name van drie van die agt Suid-Afrikaners wat gisteroggend in ’n selfmoordbomaanval in Kaboel, Afganistan, dood is, is tot dusver bekend.

Beeld berig dat Brandon Booth (47) van Balgowan in KwaZulu-Natal een van die oorledenes is. Booth se tweede dogter Willow is twee maande terug gebore. Hy het ook ʼn vyfjarige dogter, Zara. Booth is een van agt Suid-Afrikaners wat vir die maatskappy BalmOral gewerk het en wat in gister se aanval dood is. Fraser Carey (32) van Johannesburg is ook in die aanval dood. Hy laat sy verloofde, Lisa Sella, agter. Sella het gister haar profielfoto op Facebook verander na ʼn foto van Carey. Booth en Carey was twee van die drie vlieeniers wat in gister se aanval dood is. Volgens Beeld is vier van die oorledenes vlug-ingenieurs gewees terwyl die ander oorledene ʼn vrou was wat in BalmOral se operasiekamer by die Kaboel-lughawe gewerk het. TimesLive berig intussen dat Johan Bouchaud (30) ook een van die oorledenes is. Mark van Buuren, Johan se oom, sê hy sou volgende week na Suid-Afrika teruggekeer het.

Die selfmoordbomaanval het gisteroggend sowat 2km van die lughawehek plaasgevind. Die bomaanvaller, glo ’n 20-jarige vrou, is ook dood. Die bestuurder van die motor, ʼn grondbemannigslid en ʼn omstander is ook onder die oorledenes. Die selfmoordbomaanvaller het glo met ʼn wit motor vol springstof teen die Suid-Afrikaners se bussie vasgery. ’n Afgaanse insurgensiegroep het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Die aanval was glo uit wraak vir ‘n Amerikaans vervaardigde rolprent wat die profeet Mohammed verkleineer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.