Kaboel-bomontploffing: Name van alle oorledenes bekend

Fraser Carey. Foto: Facebook

Die name van al agt Suid-Afrikaners wat gisteroggend in ’n selfmoordbomaanval in Kaboel, Afganistan, dood is, is bekendgemaak.

Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, sê die departement was in kontak met die families van die oorledenes en maak met hulle toestemming die slagoffers se name bekend. Die slagoffers is Christian Johannes Justus Pretorius (30) van Pretoria, Fraser Angus Carey (31) van Johannesburg, Brandon Quinn Booth (47) van Balgowan in KwaZulu-Natal, Johan Abraham van Huyssteen (31) van Port Elizabeth in die Oos-Kaap, Johan Frederick Bouchaud (30) van Johannesburg, Johannes Judenis Humphries (65) van Centurion, Steven Leong (31) van Johannesburg en Jenny Margaret Ayris (46). Kgwete sê die departement is in kontak met die maatskappy vir wie die slagoffers gewerk het en is besig om te reël dat die slagoffers se liggame na Suid-Afrika gebring word.

Die selfmoordbomaanval het gisteroggend sowat 2km van die lughawehek plaasgevind. Die bomaanvaller, glo ’n 20-jarige vrou, is ook dood. Die bestuurder van die motor, ʼn grondbemannigslid en ʼn omstander is ook onder die oorledenes. Die selfmoordbomaanvaller het glo met ʼn wit motor vol springstof teen die Suid-Afrikaners se bussie vasgery. ’n Afgaanse insurgensiegroep het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Die aanval was glo uit wraak vir ‘n Amerikaans vervaardigde rolprent wat die profeet Mohammed verkleineer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.