Kaboel-ontploffing: Slagoffers se liggame eers in Oktober verwag

‘n Man staan verslae en kyk na die toneel van ‘n selfmoordbomontloffing in Kaboel op 18 September 2012. Foto: AFP

Die families van die Suid-Afrikaners wat verlede week in die selfmoordbomontploffing in Kaboel, Afghanistan gesterf het, sal ten minste drie weke lank moet wag voordat hul liggame terugkeer.

Agt Suid-Afrikaners het gesterf toe die bus waarin hulle gereis het, op pad na die internasionale lughawe in Kaboel, ontplof het. ‘n Vroulike selfmoordbomplanter het die bom laat ontplof. Die groep Hezb-e-Islami, het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar, in reaksie op ‘n Amerikaanse rolprent wat glo gekskeer met die profeet Mohammad. Burokrasie in die hoofstad van Afghanistan het die vrystelling van die liggame vertraag en volgens beamptes sal dit sowat twee weke duur om dié probleem op te los.

Die slagoffers was almal werknemers van ACS Balmoral, ‘n lughawensmaatskappy wat gekontrakteer is om beamptes van die Amerikaanse ambassade rond te vlieg. Chantal van Wyk, het gesê hulle doen hul bes om die gesinne ingelig te hou. “Ons het stappe wat ons moet volg en sodra dit afgehandel is, dan kan die proses om die lyke te vervoer, begin,” het sy gesê. Volgens die maatskappy sal hulle binnekort aankondig of ‘n massa herdenkingsdiens vir die slagoffers gehou gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.