Kadalie: ‘Regstelaksie het misluk’

Kadalie saam met Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema

Rhoda Kadalie, menseregteaktivis en voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, het Dinsdagmiddag ʼn striemende aanval op die regering geloods vir sy toepassing van regstellende aksie.

Kadalie het tydens ʼn mediakonferensie in Kaapstad haar steun aan Solidariteit se regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) toegesê en die regering daarvan beskuldig dat hy regstellende aksie verkeerd toepas en dat dit strafmaatreëls tot gevolg het. Sy het onder meer verwys na die krisis in die land se onderwysstelsel en gesê dit is as gevolg van onderwysers wat weens regstellende aksie aangestel word en nie volgens meriete nie. Kadalie sê mense moet aangestel word vir hulle bevoegdheid, kwalifikasies en ondervinding en nie hulle velkleur nie. Sy het gesê staatsinstellings soos die SABC is ʼn voorbeeld van hoekom regstellende aksie nie werk nie en dat die openbare uitsaaier beter bestuur was gedurende apartheid.

Kadalie sê regstellende aksie stel swart mense bloot vir mislukking en dat die verkeerde toepassing daarvan ʼn belediging is vir hulle. Sy sê dit gee die jeug die verkeerde idee dat jy kan ryk word deur regstellende aksie en nie deur harde werk nie. Volgens Kadalie verlaat mense die land omdat hulle vaardighede nie gebruik word nie weens die regering se beheptheid met kleur. Sy sê Suid-Afrika kan nie bekostig om dié mense te verloor nie en meen as sy die ANC was sou sy diegene behou het om die land vir die beter te transformeer. Kadalie het afgesluit deur te sê ‘African’ verwys nie net na swart mense nie maar na waar ʼn persoon vandaan kom en gebore is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco Griesel ·

Alles goed en wel, Rhoda Kadalie, maar hoekom het dit jou tot nou toe geneem om dit agter te kom? Het die definsie van African oornag verander en jou tot nuwe insigte gebring? Ek is van mening die wind het gedraai en baie mense skarrel om hulle seile gespan te kry…

Vorster Hough ·

Ek is dankbaar om ook n African te wees wat ook kan aanspraak maak op my regte.Ek is n blanke persoon en dan sal ook my kinders en kleinkinders as Africans ook dieselfde regte in ons pragtige land he.Vir wat ons het,het ons hard gewerk en die land oor baie jare opgewerk.Ons kon dit nie alleen doen nie,maar het as ondernemers ook die ander bevolkings groepe in staat gestel,deur ons kundigheid,om die land as die bes ontwikkelde land in Afrika te maak.Onder ons blankes is nog baie kundigheid opgesluit wat gebruik kan word om ons land verder te bou.Ons sal graag ons kundigheid en kennis tot die ander bevolkingsgroepe wil oordra as dit van ons verwag word.Daar moet opgehou word om ons as n bedreiging vir die ander bevolgingsgroepe te sien.Anton Rupert het gese.moenie die ou wat bokant jou op die leer staan te wil afgooi nie,help hom nog hoer klim dan klim jy ook agterna.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.