Die werke deur Irma Stern, JH Pierneef, Maggie Laubser en Gerard Sekoto, is onvervangbaar. Personeel by die museum is met ʼn vuurwapen gedreig. Die toneel was Maandag stil, buiten die enkele Pretoria Sentraal-polisievoertuig wat buite gestaan het, berig EWN.
Daar is glo ten minste 12 kringtelevisiekameras aan die buitekant van die gebou. Dit is egter nog nie bevestig of die oortreders op film vasgelê is nie. Leeglêers in die park langs Wesselsstraat het gesê hulle het Sondag nie iets gesien nie, maar het aangebied om die polisie by te staan indien daar foto’s van die verdagtes beskikbaar is.
Die museum is Maandae gesluit en bied die kurator geleentheid om die omvang van die skade te bepaal. Die City of Tshwane het gesê vyf kunswerke is tydens die rooftog gebuit: Irma Stern se Fishing Boats (1931), JH Pierneef se Eland and bird (1961), Gerard Sekoto se Street scene, Maggie Laubser se Cat and Petunias (1936) en Hugo Naudé se Hottentot Chief. Volgens berigte het die rowers ook Irma Stern se Twee Maleier musikante gesteel maar dit buite op ʼn sypaadjie gelos toe dit nie in hulle motor gepas het nie.