Kampeerders by vakansieoord beroof

‘n Familie is die naweek van hulle waardevolle besittings beroof by ʼn vakansieoord buite Bela-Bela (Warmbad) in Limpopo waar hulle gekamp het.

Karien Scott (58) het aan Maroela Media gesê dat sy, haar man, hulle drie seuns, hulle vroue en haar twee kleinkinders uitgesien het om die naweek by Thaba Monaté buite Warmbad te kamp. “Ek my man, Henry, ons twee seuns Freddie en Stephan, hulle twee vroue Colette en Minique en ons twee kleinkinders, die 14 maande oue Mila en sewe maande oue Mikela, het Vrydag omstreeks 12:00 by Thaba Monaté aangekom. Ons het heeldag lekker gekuier en die aand omstreeks 23:00 gaan inkruip.” Scott sê sy het omstreeks 1:00 die volgende oggend wakker geskrik. “Ek het vir my man gesê daar loop iemand buite ons tent rond. Freddie het seker 15 minute later na ons tent gekom en gesê al hulle goed is gesteel.”

Scott sê rowers het by Freddie en Stephan se tente ingekom en hulle selfone, trouringe, kameras en klere gesteel. “Niemand het wakker geword nie en ons vermoed hulle het dalk iets in die tente gespuit om hulle te laat slaap. Ons het onmiddellik die eienaar van die oord gebel waarna die polisie ook ontbied is. Dit maak mens kwaad dat sulke goed gebeur. Dit is nie net mense se besittings wat gesteel word nie maar ook mens se geluk. Dit was veronderstel om ʼn lekker naweek saam my kinders en kleinkinders te wees. Ons is Saterdagoggend terug huis toe.” Die Scotts se ander seun Henry jr. en sy vrou sou Saterdagoggend by hulle aangesluit het. Colette werk by die vakbond Solidariteit se Helpende Hand terwyl Karien by Sol-Tech werk. Minique is die bemarkingsbestuurder van Jacaranda FM.

Angelo Abbatemarco, eienaar van Thaba Monaté, het aan Maroela Media gesê daar is veiligheidsmaatreëls in plek by die oord. “Dit gebeur nie baie nie maar het wel by ander lodges en vakansieoorde in die gebied ook al gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.