Kan Wagter of Sokkies Covid-19 kry en oordra?

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Alec Favale/Unsplash)

Sedert die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) die uitbreking van die nuwe koronavirus (Covid-19) tot ʼn pandemie verklaar het, is mense wêreldwyd bekommerd oor hul troeteldiere en of hulle immuun is teen dié siekte wat reeds die lewens van sowat 34 000 mense wêreldwyd en dié van twee mense in Suid-Afrika geëis het.

Die WGO het troeteldiereienaars vroeër verseker dat Wagter of Sokkies nié die siekte kan opdoen of oordra nie, maar daar is wel onlangse berig dat twee troeteldiere, ʼn Pomeranian in Hongkong en ʼn Europese kat, positief vir Covid-19 getoets het.

Albei dié diere se eienaars het ook positief vir die virus getoets.

Volgens ʼn berig wat op die webwerf van die universiteit van Illinois se kollege vir veeartsenykunde gepubliseer is, is dit steeds hoogs onwaarskynlik dat mense diere sal aansteek met Covid-19 of anders om.

“Kenners meen steeds dat honde en katte nie maklik met die virus besmet kan word nie, en die risiko van oordrag na mense is onbeduidend in vergelyking met die risiko van oordrag tussen mens tot mens,” lui die berig.

“Owerhede moedig troeteldiereienaars steeds aan om hul hande te was voor- en nadat diere, hul kos en hul voorrade hanteer word en mense moet dit vermy om hul troeteldiere te soen.”

Die berig het bygevoeg dat veeartse en menslike gesondheidsbeamptes sal volhou om die situasie te monitor soos wat die Covid-19-pandemie ontwikkel.

Die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) het op sy beurt gesê daar is tans geen bewyse dat diere wat deur mense besmet is, ʼn rol speel in die verspreiding van Covid-19 nie. Studies word tans onderneem om verskillende dierespesies se vatbaarheid vir die Sars-CoV-2 virus beter te verstaan, en om die besmettingsdinamika in vatbare spesies te bepaal.

Volgens dr. Peter Oberem, besturende direkteur van AfriVet, is dit nou ook meer as voorheen uiters belangrik dat mense slegs na betroubare bronne luister.

“Gerugte doen tans die rondte in Suid-Afrika dat Covid-19 na troeteldiere en ander diere oorgedra kan word en dan van hierdie diere na mense. Daar is geen geloofwaardige wetenskaplike bewyse om hierdie gerugte te ondersteun nie. Covid-19 versprei van mens tot mens.

“Ons moedig alle troeteldiereienaars en diereliefhebbers aan om hul diere te beskerm en aan te hou om vir hulle te sorg,” sê Oberem.

Dié gerugte het tot gevolg dat diere-eienaars hul troeteldiere by die naaste skuiling aflaai uit vrees vir die verspreiding van die virus.

Talle skuilings, onder meer die Bergbron-dierekliniek, het ʼn beroep op troeteldiereienaars gedoen om nié hul diere by skuilings af te laai uit vrees vir die virus nie.

Die dierewelsynsorganisasie Animal Humane Society sê dit is belangrik om voorsorg vir jou troeteldiere te tref indien jy met Covid-19 besmet word en gehospitaliseer moet word.

“Identifiseer ʼn familielid of ʼn vriend wat na jou diere kan omsien terwyl jy in die hospitaal is en maak seker daar is kratte, kos en ekstra voorraad byderhand vir ingeval jou dier geskuif moet word. Hou jou diere se inentings op datum vir ingeval jou diere na ʼn hondeherberg moet gaan. Maak seker medikasie-toedienings en hoeveelhede word gedokumenteer saam met die voorskrif van die veearts, en maak ook seker jou diere dra ʼn halsband en ID-tag.”

Volgens Oberem moet troeteldiereienaars eers hul veeartse kontak vir raad voordat hulle ʼn dier na die praktyk neem vir ʼn konsultasie, sou die dier tydens die afsonderingstydperk in Suid-Afrika ʼn veearts se sorg benodig.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Ek het my hondjie hartstogtiglik lief maar ek soen hom nie. Mens wys jou liefde vir diere op allerlei maniere maar soen is uit.

Sarel ·

Die Mens???? Laai Troeteldiesre by Sentrums af uit vrees dat die virus oorgrdra mag word maarvtussen mens tot mens word veiligheuswenke niecekm toegepas nie???

Chantel ·

Dis absoluut siek dat mense hulle diere nou links en regs aflaai en na dié verby is dan wil hulle weer diere aanneem. Daar moet ‘n register gemaak word van hierdie lafhartige mense, sodat hulle nooit weer diere mag aanneem nie. Ek voel baie sterk hieroor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.