Kankermasjiene kan nou weer werk

Een van die Varian Rapidarc Linear Accelerator-masjiene

Die departement van gesondheid in KwaZulu-Natal het die instandhoudingskontrak van twee kankerradioterapiemasjiene by Addington-hospitaal in Durban, betaal.

Werner Bergere, hoof uitvoerende beampte van Tecmed, die maatskappy wat die twee Varian Rapid Arc Linear Accelerator-masjiene installeer het, het Dinsdag bevestig die maatskappy het die betaling Maandag ontvang. Desmond Motha, woordvoerder vir die departement, het Maandagaand gesê die departement het die betaling gedoen.

Die twee masjiene het laas in Januarie gewerk, nadat Tecmed geweier het om dit te diens, aangesien hulle sedert Maart 2012 nog nie betaling van die departement ontvang het nie. Daar is slegs een ander soortgelyke masjien in die land.

Die masjiene is in 2010 in Durban by Addington-hospitaal installeer nadat Tecmed ʼn tender van R120 miljoen toegeken is. ʼn Instandhoudingskontrak van R33 miljoen vir vyf jaar is hierby ingesluit. Die instandhoudingskontrak is later na R26 miljoen verminder.

Toe die masjiene ophou werk het, het Addington se onkologiedepartement, wat pasiënte van regoor die provinsie ontvang, sy wagtydperk van agt maande na twee weke verminder. Die departement het aangevoer hy het die kontrak opgeskort, aangesien daar glo korrupsie by die tenderproses betrokke was. Tecmed ontken enige misdryf.

Die departement het in Mei en Julie 2010 twee klagtes by die polisie ingedien, maar geen klagtes is sedertdien gelê nie.

Pasiënte van Addington is na die Inkosi Albert Luthuli-hospitaal oorgeplaas, wat drie radioterapie-masjiene het. Die wagtydperk by dié hospitaal is glo na vier tot vyf maande verleng.

Sibongiseni Dhlomo, LUR vir gesondheid in die provinsie, het gesê betalings sal op ʼn maand tot maand-basis geskied terwyl daar op die uitslag van ʼn ondersoek gewag word. Dhlomo en dr. Sibongile Zungu het ontken dat hulle pasiënte se lewens in gevaar gestel het.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het verlede week aangedui dat hy ʼn klag teen die departement ondersoek. Die klag is glo deur prof. Amo Jordaan, voormalige hoof van die departement van onkologie by Addington-hospitaal, gelê. Jordaan het bedank uit die pos, wat hy sedert 1981 beklee het weens die departement se versuim om die instandhoudingskontrak te betaal. Hy het vroeër gesê die masjiene het die tydperk, wat ʼn pasiënt radioterapie moet ontvang, verminder en is baie meer akkuraat om gewasse te hanteer.

Lees ook:
Werkers staak vir kankerpasiënte by Durban-hospitaal
Tweede onkoloog bedank glo oor “stukkende masjiene”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.