“Kansellasie van uitvoer na Zim ʼn triomf” – AfriForum

Alouette III

Alouette III

Die departement van verdediging se besluit om die beoogde skenking van 12 Alouette-helikopters aan Zimbabwe te kanselleer, is ’n oorwinning vir menseregte in die streek.

Dit was die reaksie van AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, nadat dit aan die lig gekom het dat die Suid-Afrikaanse Weermag nie meer voortgaan met sy aanvanklike plan om die helikopters aan Zimbabwe te lewer nie, maar dat die helikopters nou aan Namibië geskenk gaan word.

’n Dringende hofbevel wat deur AfriForum verkry is, het verlede jaar verhoed dat die helikopters en onderdele aan Zimbabwe verskaf word omdat gevrees is dat dié regering dit teen sy burgers sou gebruik.

Volgens Beeld het die Lugmag vandeesweek gesê die finale goedkeuring vir die skenking aan Namibië word nog afgewag, maar dat dit net ’n formaliteit is. Die vliegtuie is volgens berigte reeds reg en ’n vliegtuigloods vol onderdele verpak om na Namibië verskeep te word. Die Franse regering, die vervaardiger, het blykbaar ook toestemming gegee dat die helikopters Namibië toe mag gaan. Dit is ’n maatreël om te voorkom dat dit in verkeerde hande beland.

Dit is nog nie duidelik wat die Namibiërs met die helikopters gaan maak nie. Die land se lugmag gebruik egter ’n Indiese variant van die Alouette-helikopter wat dit volgens lugvaartkenners relatief maklik sal maak om die Suid-Afrikaanse vliegtuie diensbaar te kry.

Suid-Afrika het blykbaar in 1998 150 Samil-vragmotors en 24 G2 140 mm-kanonne aan Namibië geskenk. In dié tyd was Namibië en Zimbabwe betrokke by die burgeroorlog in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK). Dit het later aan die lig gekom dat die kanonne na die DRK versend is net nadat dit op Grootfontein aangekom het.

AfriForum sal die verdere verloop van die transaksie noukeurig dophou. Indien dit aan die lig sou kom dat die skenking aan Namibië net ’n slenter was om die helikopters in elk geval na Zimbabwe te versend, sal ‘n klag van minagting van die hof teen die betrokke ministers en amptenare aanhangig gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.