Kapinghel: Ma vertel van nagmerrie-uur

Foto: The Complimentary Breakfast/Facebook

Wendy Lombart, ʼn ma van Silverton in Pretoria, wat onlangs in haar oprit gekaap is met haar 5-jarige dogtertjie steeds vasgegespe op die agterste sitplek van die voertuig, het van dié vreeslike dag vertel.

“Daar is geen woorde wat kan beskryf wat deur jou kop gaan as jy sien hoe ʼn kaper met jou kind in die kar wegry nie,” sê Wendy. Sy het by haar huis se oprit gestop en uit die voertuig geklim om die motorhek te sluit, toe ʼn kaper ʼn geweer in haar gesig druk. Wendy wou Angie nog uit die voertuig haal, maar die agterste deur was gesluit. Die kaper het met Angie weggery en ʼn ruk later die kind langs die pad in Meyerspark afgelaai. ‘n Vrou het by haar gestop en Angie na ʼn Engen-vulstasie geneem, waar die polisie ontbied is. Die ma en dogter was vir sowat ʼn uur van mekaar geskei.

Wendy sê hulle het al vir ses jaar lank in Silverton gebly en dat dit ʼn veilige gebied was. “Die afgelope tyd het daar egter baie kriminele dade in die gebied plaasgevind. Ons oorweeg dit nou om na ʼn veiliger gebied in Centurion te verhuis,” het sy Dinsdag gesê. Sy sê voorts sy ry nie meer alleen sonder haar man in die voertuig nie en stop nie meer in die oprit nie.

Kaptein Jan Sepato, ʼn polisiewoordvoerder van die Silverton-polisiestasie, het aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.